Meer as 37 000 teken petisie om Dinokeng-leeus te red

Die reservaatbestuur sê alle alternatiewe is oorweeg, maar hulle aansoek om ’n permit om die leeus uit te sit, is op die raad van leeukenners gebaseer.

Alle alternatiewe om ’n aansoek om ’n permit om die die drie leeus van die Dinokeng-reservaat naby Pretoria uit te sit, is deur die bestuur oorweeg alvorens die stap geneem is.

So sê Michael Daymond, die voorsitter van Dinokeng Game Enterprises.

Die maatskappy besit die wilde diere in die Dinokeng-reservaat.

Volgens Daymong het die Gauteng Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling nog geen terugvoer op hul aansoek aan Dinokeng Game Enterprises gegee nie. Ontvangs van die aansoek is wel erken.

Daymond het gereageer op die “Red die Dinokeng-leeus” petisie wat reeds deur meer as 37 000 Suid-Afrikaners onderteken is om die drie leeus te red.

Net op 22 Augustus alleen het meer as 1 700 ondertekenaars steun vir die behoud van die leeus uitgespreek.

’n Werknemer, Johannes Matshe (30), is op 13 Augustus deur die drie leeus aangeval toe hy te voet deur die reservaat gestap het.

Matshe het by ’n grondeienaar in die reservaat gewerk. Die eienaar besit sy eiendom in die reservaat al vir 20 jaar waarvan Matshe tien jaar in sy diens was.

Sy oorskot is die volgende oggend deur ’n patrollie van die reservaat se veldwagters en veiligheidspersoneel gevind.

Daymond sê alhoewel diereliefhebbers se ondertekening vir die petisie “bewonderenswaardig” is, hou dit nie tred met die werklikhede rondom die insident nie.

Verskeie waarskuwings, ook rondom die reëls en regulasies van die reservaat, word by die hekke van Dinokeng-reservaat aangetref. Foto: Dinokeng/Facebook.

Hy het aan Pretoria Rekord verduidelik dat die bestuur met verskeie leeukenners gekonsulteer het.

“Hulle het ons meegedeel dat daar geen waarborg is dat hierdie drie diere nie weer tot so ’n stap sal oorgaan nie. Die risiko om hulle in die reservaat aan te hou is té groot,” sê Daymond.

Vir die bestuur is dit ook nie ’n opsie om die leeus aan ’n toevlugsoord vir die redding van leeus toe te sê nie.

“Ons het ’n vasgestelde, maar aanpasbare bestuursplan en beleid vir Dinokeng se leeus. Daarvolgens mag ons nie wilde leeus toelaat om leeus in aanhouding, soos by ’n leeutoevlugsoord, te word nie.”

Daymond benadruk dat die drie tweejarige leeus deur ’n dominante kraagmannetjie uit hul gesamentelike gebied verjaag is.

Aldrie is in die reservaat gebore, het as broers ’n koalisie gevorm en het weggebreek van die trop.

“Ons het al ’n wyle gelede versoek dat ’n forum wat die beweging van leeus tussen reservate bestuur, ’n ander reservaat soek en aanbeveel om die drie mannetjies in te neem. Dit is bloot goeie praktyk om op hierdie manier leeuoorbevolking in ’n reservaat te beheer,” beklemtoon Daymond.

Tot dusver kon geen so tuiste gevind word nie. Daymond spel uit daar nou geen kans is om hul na ’n vrylopende reservaat te stuur nie.

Die Lion Management Forum het ook volgens Daymond verskeie kundiges wat oor die kwessies rondom die drie leeus bespreek het.

Verskeie waarskuwings, ook rondom die reëls en regulasies van die reservaat, word by die hekke van Dinokeng-reservaat aangetref. Foto: Dinokeng/Facebook

Hulle het konsensus bereik dat hulle uitgesit moet word.

Hartogh Streicher, voorsitter van die Dinokeng-bestuursorganisasie, sê ongelukkig het die voorval nou ook ’n politieke speelbal geword.

Na samesprekings met gemeenskapsleiers en politici van onder meer die ANC in die onmiddellike areas rondom die reservaat aan die weste van Pretoria, het gemeenskapsorganisasies egter sterk steun uitgespreek vir Dinokeng se aansoek om die leeus uit te sit.

Streicher het ook sterk standpunt ingeneem oor ’n smeerveldtog wat tans op sosiale media teen die werkgewer gevoer word.

“Ons keur hierdie veldtog ten sterkste af as onsensitief, lasterlik en opruiend. Uit die emmers vol trane wat ek hom en sy familie oor Matshe sien huil het, kan ek jou verseker sy werkgewer verwerk Matshe se dood moeilik.”

Hy het bevestig dat die werkgewer en Matshe se ma binnekort ’n mediakonferensie sal hou om valshede hok te slaan.

Van die leiers het hul kommer oor die veiligheid van personeel met die bestuur gedeel. Oplossings is gesoek en aanbeveel vir meeste van die punte van besorgdheid.

“Wanneer eienaars deel word van die reservaat, word hulle deeglik oor die regulasies en reëls ingelig. Die verantwoordelikheid word egter nie net aan hulle oorgelaat om die inligting met werknemers te deel nie. Die gevare om in ’n reservaat te voet te wees, word duidelik by die hekke deur waarskuwingstekens uitgespel.”

Eienaars is na die voorval weereens versoek om ook hierdie gevare aan gaste en werknemers by herhaling uit te spel.

Die polisie in Hammanskraal het ’n geregtelike ondersoek na Matshe se afsterwe van stapel gestuur.

Pretoria Rekord het navrae aan die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling gerig en sal die kommentaar bywerk sodra dit ontvang word. Gemeenskapsleiers is ook vir kommentaar genader.

Read original story on rekord.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button