Moord in Witrivier: Pa soek geregtigheid ná seun se dood
Pieter Burger jr. is in die vroeë oggendure van verlede Donderdag noodlottig geskiet naby Witrivier Rugbyklub.
“Hy was my beste pêl – my hero, en alles wat ek wens ek kon gewees het.”
Só het Pieter Burger sy seun wat hy verlede Donderdag in die ouderdom van 21 aan die dood moes afstaan, aan Laevelder beskryf.
Pieter Burger jr. is in die vroeë oggendure noodlottig naby Witrivier Rugbyklub in ‘n voorval wat die gemeenskap in diepe skok gedompel het, gewond.
Met weergawes van die voorval wat dramaties verskil, is dit nou die taak van ‘n ervare ondersoekspan om die ware toedrag van sake te bepaal, en al wat Pieter sr. wil hê, is geregtigheid.
“Niks gaan my kind terugbring nie. Maar die skuldiges sal volgens die reg aanspreeklik gehou word.”
Pieter jr., ‘n jong veeboer, ‘n losvoorspeler vir die klub se eerstespan en kranige sportster, is kort na middernag dood toe hy ‘n skietwond opgedoen het.
Dit blyk asof hy van agter af geskiet is en dat ‘n koeël sy hart getref het. Dit volg ná ‘n skermutseling in die klub, wat later in ‘n skietery by die Danie Joubert-aansluiting ontaard het.
Twee ander: Marco Schalekamp en Arno van Niekerk het verskeie skietwonde opgedoen – Schalekamp in die gesig, bolyf en nek, en Van Niekerk in die maag, bolyf en ‘n vleiswond aan die kop.
Terwyl Schalekamp nog in die hospitaal aansterk, het Luitenant-Kolonel Jabu Ndubane bevestig dat Van Niekerk uit Mediclinic Nelspruit ontslaan is. Hy is tans onder bewaring.
Ndubane het aan Laevelder gesê dat die naam van die hospitaal waarin Schalekamp aansterk, volgens sy familie se versoek, weerhou word.
Gerugte dat hy homself ontslaan het, en dat hy in polisiebewaring is, het Maandag soos ‘n veldbrand versprei, maar Ndubane het dit ontken. Sy het wel bevestig dat sy sesjarige seun tydens die voorval in die voertuig was, maar is ongedeerd.
Vrae oor man se betrokkenheid
Schalekamp is luidens sy CV, wat die ronde op sosiale media doen, ‘n hoogs ervare 42-jarige sekuriteitskenner met uitgebreide ondervinding in die Britse militêre en hoërisiko-sekuriteitsoperasies wêreldwyd. Dit het veral vrae oor sy betrokkenheid laat onstaan.
Schalekamp se vaardighede behels batebeskerming, persoonlike sekuriteit, noodmedisyne, swaar wapens, plofstof en taktiese militêre opleiding.
Hy het in die VK Sege SFSG (Special Forces Support Group) gedien en spesialiseer in teen-terrorisme, lug- en maritieme operasies en krisisbestuur.
Sy loopbaan sluit leierskapsrolle waar hy bestuurders, regeringsamptenare en hoëprofielkliënte in verskeie industrieë beskerm het, in.
Van die bestuur van sekuriteitspanne tot gewapende begeleiding in Irak en teen-insurgensie-operasies in Nigerië, het Schalekamp bewese vaardigheid en aanpasbaarheid in uitdagende omgewings.
Min is nog in hierdie stadium bekend oor Van Niekerk en sy betrokkenheid by die voorval.
Nóg ‘n man gesoek
Laevelder het vertroulik verneem dat nóg ‘n party moontlik by die skietery betrokke was, en dat hy tans soek is.
Daar was bewerings dat hy homself aan die polisie sou oorhandig, maar Ndubane het dit ontken.
Die presiese omstandighede rondom die voorval bly onbekend, maar daar is sterk aanduidings dat die antwoorde binne die volgende paar dae bekend sal word.
‘n Saak van moord en poging tot moord, wat deur die provinsiale polisie oorgeneem is, word ondersoek. Daar is op twee handwapens, wat tans ballistiese toetse ondergaan, beslag gelê.
Schalekamp, Van Niekerk en ooggetuies is in die proses om verklarings by hulle prokureurs af te lê, waarna die saak na die senior staatsaanklaer vir verdere besluitneming oor vervolging verwys sal word. Pieter het die gemeenskap gemaan om op te hou spekuleer.
“Die reg sal sy gang gaan en die waarheid sal seëvier. Vir nou, hoop ek dat jongmense uit hierdie tragedie sal leer.”
Huldeblyke stroom steeds in.
Rugbywedstryde ter ere aan Pieter jr.
Witrivier Rugbyklub het Saterdag ‘n 36-20-oorwinning oor Barberton in ‘n emosioneel belaaide wedstryd ter ere aan Pieter jr., behaal.
Boeta Botha, wat Pieter jr. se nommer ses-trui gedra het, het ‘n uitmuntende vertoning gelewer en is as man van die wedstryd aangewys.
@lowvelder White River Rugby Club played Barberton Rugby Club at Coronation Park yesterday (June 7). The White River first team played the match in honour of club member Pieter Burger, who passed away on Thursday. White River held a 14-13 lead at halftime, but lifted their game in the second half to win 36-20. After the match, the White River players and support staff celebrated the win by paying tribute to Burger. It was an extremely emotional match for White River, who were determined to honour the memory of their late teammate with a victory. A full match report will appear in the next print edition of Lowvelder. #inmemory #lowvelder #whiteriverrugbyclub #rugby
Die span sal hierdie naweek teen Nelspruit in die Premierliga speel, en sal ook hierdie wedstryd ter nagedagtenis van hom opdra.
Pieter jr. se gedenkdiens is vandag om 10:30 by Arch & Arrow, Yaverlandweg 34, gehou.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za