Moord op jong pa van eMalahleni: Skoonsuster wéér in hof
Melissa Vice, wie daarvan beskuldig word dat sy haar swaer Willie Visser vermoor het, het vandag weer in die hof verskyn.
Melissa Vice het weer vanoggend in die Witbank-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord.
Volgens Witbank Nuus word die 29-jarige vrou daarvan beskuldig dat sy haar swaer, Willie Visser, op 16 Desember vermoor en sy liggaam by die Seekoeiwater-plotte gestort het.
Melissa, geklee in ’n denimbroek en kamoefleerbaadjie, het ontspanne voorgekom en geglimlag toe sy haar man, Sam, sien.
Saak word uitgestel
Landdros Matome Seima het die saak uitgestel tot 29 Januarie.
Melissa se regsverteenwoordiger, Koos Harmse, het aangedui dat hy dan formeel borgaansoek gaan doen.
Hy het ook genoem dat hy vir die lykskouingsverslag, sowel as Melissa se verklaring, aangevra het.
Begrafnis
Buite die hof het Visser se ma, Kariena, gesê haar seun se begrafnis het gister plaasgevind.
“Dit was baie erg om hom finaal te groet,” het sy gesê.
Visser se weduwee, Vanessa, was vandag vir die eerste keer in die hof.
Sy was sigbaar oorweldig deur emosie en het kortliks aan die media gesê dat sy op hierdie stadium ‘net haat’ voel.
- Melissa is op 24 Desember in hegtenis geneem en bly in aanhouding.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za