Moord op Limpopo-prokureur: G’n borg vir beskuldigde

Die landdroshof het gehoor dat Tsholofelo Joseph Motsoane, wie van Schalk Pienaar se moord beskuldig word, se misdaadrekord tot 2003 strek.

Tsholofelo Joseph Motsoane wat aangekla is van die moord op die bekende prokureur van Mokopane, Schalk Pienaar, het vandag vir die derde keer in die Mokopane-landdroshof verskyn om aansoek te doen om borg.

Bosveld Review het voorheen berig dat Pienaar – ‘n voormalige parlementslid – op 19 September 2022 in die oprit van sy huis koelbloedig doodgeskiet is.

Motsoane is ‘n maand later aangekeer, in hegtenis geneem en van moord, sameswering tot moord en ander vuurwapenverwante aanklagtes, aangekla. Volgens bronne het hy ook die ontsnappingsvoertuig bestuur.

Ontstellende besonderhede oor Motsoane se misdaadgeskiedenis is aan die hof voorgehou.

Motsoane se misdaadrekord strek terug tot 2003, toe hy skuldig bevind en vonnisse uitgedien het vir afsonderlike sake van poging tot moord, roof en diefstal. Hy sou later uit aanhouding ontsnap terwyl hy verhoorafwagtend was vir twee van dié sake, en is later ook hierop skuldig bevind.

Die staat meen dat Motsoane voortvlugtend is en met bewyse en getuies sou inmeng sou borg toegestaan word.

Die staat hou vol dat hulle in besit is van ‘n verklaring van ‘n getuie wat Motsoane met die beplanning van die moord verbind. Daar is ook ‘n ooggetuie wat Motsoane se motor op die toneel plaas.

Motsoane het die hof versoek om op borgtog vrygelaat te word weens sy swak gesondheid en gesê dat hy weens ‘n gebreekte been nie in staat is om sonder krukke te loop nie, hy het ook sere in sy gesig wat ‘spesiale’ room benodig.

Die landdros het egter aan Motsoane uiteengesit dat geen van sy redes om op borg vrygelaat te word geldig is nie.

Borg is nie toegestaan nie en die saak sal van 22-26 Julie in die Polokwane-hooggeregshof voorkom.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button