Moord van Oudtshoorn-rugbyspeler: Staat bekom nuwe inligting
Boutros 'Boelie' May is in Februarie in die hospitaal oorlede nadat hy met 'n skerp voorwerp in die skouer gesteek is.

Uitspraak in die borgtogaansoek van Felicia Afrika, die vrou wat van moord op die rugbyspeler, Boutros ‘Boelie’ May, aangekla word, is tot vandag uitgestel omdat die staat nuwe inligting bekom het.
Afrika het May glo die oggend van 12 Februarie, in Adderleystraat in Oudtshoorn, met ‘n skerp voorwerp in die skouer gesteek. Hy is ‘n paar uur later in die hospitaal dood.
Landdros Stephanie Strydom het die versoek van die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, toegestaan ten spyte van Afrika se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, se beswaar.
Volgens Laubscher het sy twee dae na die sluiting van die borgtogaansoek nuwe inligting bekom waarvan sy nog nie al die dokumentasie ontvang het nie. Volgens haar gaan dit oor Afrika se registrasie by die Robert Sobukwe Akademie wat nie plaasgevind het nie, kommunikasie met staatsgetuies en haar beweerde geneigdheid om misdaad te pleeg. Sy het die hof versoek om die saak tot vandag uit te stel.
Volgens Swanepoel kon Afrika nie by die inrigting registreer op die gemelde datum nie omdat sy twee dae tevore in hegtenis geneem is. Sy kliënt ken nie al die staatsgetuienis nie en daar is geen bewys voor die hof dat sy geneig is om misdaad te pleeg nie.
Volgens hom is die nuwe inligting wat die staat voor die hof wil bring irrelevant tot die borgtogaansoek en dat die staat se versoek van die hand gewys moet word.
Die hof het beslis dat die staat die nuwe inligting so gou doenlik aan die verdediging beskikbaar moet stel om behoorlik daarop te kan reageer.
Die landdros het gesê dat sy gereed is om uitspraak en dat indien die inligting wat die staat wil voorlê nie relevant tot die borgtogaansoek is nie, sy uitspraak sal lewer.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com