Mosselbaai-hengelaar swem die see in om bejaarde te probeer red

'n Man van 'n dorp op die Tuinroete het sonder om twee keer te dink die seewater aangedurf om 'n 79-jarige man te help.

’n Inwoner van Mosselbaai wat Maandag (18 Mei) in die see gespring het nadat ’n 79-jarige man sekondes tevore van die rotse by Die Punt in die water geval het, sê hy het nie daaroor nagedink nie en het net geswem.

Volgens Mossel Bay Advertiser word die 38-jarige Chris Pietie Barnard op sosiale media as ’n held bestempel nadat hy agter die bejaarde man aangeswem het.

Volgens Barnard was die man toe reeds bykans 40 m die see in, vermoedelik deur ’n stroom getrek.

Die voorval

Barnard het ‘n dag ná die voorval met Mossel Bay Advertiser gesels en gesê hy het saam met twee ander mans aan die regterkant van die Poort naby die grotte gehengel.

“Ons het die oom op die rotse gesien. Ek het hom dopgehou om te kyk of ’n brander hom slaan, want hy was nogal naby. Hy het skielik net vooroor in die water geval.”

Barnard sê hy het soontoe gehardloop en gesien die man is reeds etlike meters verder in die water. “Dit was seker die adrenalien wat gepomp het, maar ek het net gespring en geswem.”

Hy sê toe hy by die man kom, was dié nie meer by sy bewussyn nie. Barnard het met hom rotse toe geswem en kardiopulmonêre resussitasie toegepas.

Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut is volgens woordvoerder Craig Lambinon ongeveer 16:55 geaktiveer, en die nooddienspersoneel het kort daarna by hulle op die toneel aangesluit en verdere behandeling toegepas.

Hartseer einde

Die man is egter op die toneel dood verklaar.

’n Familielid van die oorledene het aan die koerant gesê sy is nie gereed om met die media te praat nie.

Barnard sê die hele voorval is vir hom baie hartseer en hy voel jammer vir die man se familie.

Naas ’n seer knie en ’n stywe lyf het Barnard nie enige beserings opgedoen nie.

Die Mosselbaai-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button