Mosselbaaise gevangenes glo met krieketkolf aangerand: Dissiplinêre proses volg
Die Departement van Korrektiewe Dienste het vandag bevestig dat 'n beweerde geval by die Mosselbaai Jeuggevangenis ondersoek word.
Interne dissiplinêre verrigtinge vind tans plaas na die beweerde aanranding van gevangenes in die Mosselbaai Jeuggevangenis verlede jaar.
Na verskeie navrae van die Mossel Bay Advertiser het die Departement van Korrektiewe Dienste die bostaande vandag bevestig.
“Die dissiplinêre proses volg ondersoeke na bewerings dat amptenare onredelike krag gebruik het om gevangenes wat in ‘n fisiese onderonsie betrokke was, te beheer.
“Om sekure, veilige en ordelike korrektiewe sentrums te bedryf is deel van die departement se mandaat,” sê die departement.
Die koerant het voorheen berig daar word beweer drie gevangenes is op 13 Desember deur drie bewaarders met ‘n krieketkolf aangerand.
Die departement het verlede jaar bevestig dat daar wel ‘n voorval was, maar geen verdere besonderhede verskaf nie. Die departement het (ook verlede jaar) gesê daar sal ‘n verklaring uitreik word sodra die formele verhore voltooi is.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com