Mpumalanga-man (55) koelbloedig doodgeskiet tydens plaasaanval

Die man se vrou en 'n ander man is tydens die voorval oorval en vasgebind, en een van die rowers het later in die hospitaal gesterf.

Die Balmoral-gemeenskap in Mpumalanga is tot stilstand geruk na ’n plaasmoord waarin ’n man koelbloedig doodgeskiet is.

Dié nagmerrie ondervinding vir die Eksteen-egpaar en Leon de Wet het Maandag net na 18:00 begin.

De Wet en Charlene Eksteen is deur vermeende rowers oorval en vasgebind in Eksteen se huis op die plaas. Hulle is herhaaldelik met ’n staalpyp geslaan.

“Die slagoffers het gesê hulle is deur vier mans, wat gewapen was, vasgemaak. Nadat hulle vasgemaak is het die rowers die huise geplunder en geld geëis,” het kaptein Lizzy Hlathi, die woordvoerder van Vosman-polisie, gesê.

Charlie Eksteen, heeltemal onbewus dat die rowers hom inwag, het na werk by die huis aangekom en is toe hy uit sy Jetta klim, doodgeskiet.

Charlene de Wet het aan Witbank News vertel dat sy na haar kamer toe geneem en vasgemaak is.

“Op pad kamer toe het een van die mans vir my gesê: ‘I killed your husband’. Ek wou dit nie glo nie, dit was asof die woorde hol geklink het. Ek was so bang hy verkrag my, dank die Here hy het nie.”

Sy het gesê sy het net bly bid. Die rowers het ’n kluis by een van die ander huise op die plot gesteel, in die Jetta gelaai en weggejaag.

Intussen het De Wet dit reggekry om homself los te maak en het meer as ’n kilometer ver gehardloop om hulp te gaan soek.

Op pad terug saam met ander inwoners in die omgewing het hulle verby die Jetta gery, teruggedraai en die Jetta agternagesit.

Die rowers het die Jetta gestop, uitgespring en weggehardloop.

Hlathi het genoem dat een van die rowers homself raakgeskiet het tydens die rooftog.

“Sy makkers het hom agtergelaat toe hulle gevlug het,” het Hlathi gesê.

Die verdagte is in die hospitaal dood.

Vosman-polisie ondersoek sake van besigheidsroof, huisinbraak en diefstal.

As jy enige inligting het wat sal lei tot die opspoor van die ander verdagtes kan jy Vosman-polisie skakel op 079 891 4842.

Read original story on witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button