‘Noodlotsfoto’: Medelye stroom in ná springgety-tragedie
'n Fotograaf verduidelik die tragiese gebeure rondom haar treffende foto wat landswyd opslae maak.
Hulle sê ‘n kiekie spreek boekdele en min soveel soos Tanya Rossouw (52) se ‘Noodlotsfoto’ wat sosiale media laat gons.
Rossouw, van Wilderness in die Wes-Kaap, het die oomblikke voor die tragiese dood van Jo Hartman (93) op kamera vasgevang – en die foto ontlok groot reaksie by mense.
Dié foto is as voorbladfoto op George Herald gebruik en die redakteur, Lizette da Silva, verduidelik dat hulle hierdie besluit nie ligtelik geneem het nie.
Sy noem dat die besluit geneem is met die toestemming van Hartman se familie. “Ons [is] jammer as sommige lesers aanstoot geneem het. Ons harte gaan uit na Jo Hartman se familie wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het en al die ander omstanders wat die traumatiese gebeurtenis meegemaak het. Dit is ‘n historiese nuusfoto, wat die omvang van die oomblik vasgevang het.”
Hartman – ‘n wiskundeonderwyser by uitstek – is Saterdag oorlede toe ‘n reusebrander haar en ander omstanders van hulle voete afgeslaan het in die parkeerarea by Leentjiesklip in Wilderness.
George Herald berig dat dié afgetrede onderwyser van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, wat na Welgelegen in George verhuis het, saam met haar dogter Ronell Lindemann, soos baie ander, na die see gaan kyk het.
Rossouw was ook daar om na die hoë gety te kyk, deel sy in ‘n Facebook-plasing: “Dit gebeur mos maar selde en ek het gedink ek sal so foto of twee neem. Ek het met my foon op die stuurwiel gesit en ‘n hele paar foto’s geneem. Daar was opeens baie water en ek het net die knoppie gedruk en gedruk. Ek het regtig nie op daardie stadium geweet wat ek afneem nie.”
Rossouw noem sy het, terwyl die water teruggetrek het, ‘n beseerde man gesien en ‘uitgespring om te help’.
“Almal het dadelik ingespring en gehelp waar hulle kon. Ons het die tannie tot by Max (haar bakkie se naam) gehelp en haar agter op die klap laat lê. Die ambulans het so rukkie later opgedaag. Eers later tuis het ek die foto gesien en gedink dit is nogal ‘n great foto.”
Rossouw het aanvanklik slegs helfte van die foto op sosiale media gedeel, maar, volgens haar plasing, die hele foto aan Hartman se gesin gestuur.
“My hele lewe lank glo ek alles gebeur altyd met ‘n rede. Dié foto het ook ‘n doel in my lewe en dalk in ander se lewens. Daar was ander mense ook op die foto en voor die foto geplaas is moes ek met hulle ook gesels, alles is maar dinge wat op mens werk. Wat nou daarmee saamgaan sal ook oorwaai en alles sal rustiger raak,” deel sy en noem dat sy nog haar emosies probeer verwerk.
Saam met haar plasing deel sy ‘n foto van Leentjiesklip wat sy eergisteroggend geneem het, en voeg by: “Ek self gaan nie die [Noodlots]foto plaas nie. Ek het die foto (eergisteroggend s’n) geneem presies waar ek en Max gestaan het [op die noodlottige dag].”

Strande weer oop
George Herald berig ook dat alle strande in die George-omgewing weer vandag vir besoekers oop is. Dit volg ná opruimingswerk weens die skade wat deur die springgety veroorsaak is.
Die plaaslike munisipaliteit het egter besoekers gemaan om te swem weens ‘n ‘gebrek aan lewensredders en gemors in die water’.
- Hierdie berig is aangepas om George Herald se kommentaar by te voeg.
Read original story on www.citizen.co.za