Nuwe bestuurslisensiekaarte teen einde April verwag

Daar word gepoog om die eerste 100 per provinsie van dié lisensies, wat oor verbeterde sekuriteitsmaatreëls beskik, teen maandeind te druk.

Suid-Afrika sal glo teen einde April nuwe bestuurslisensiekaarte hê. Dit sal ook ‘n langer geldigheidstydperk van agt jaar hê.

Gedurende ’n media-inligtingsessie gister het die Minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, gesê die departement is in die finale stadium van die verkryging van ’n nuwe drukmasjien vir dié kaarte, met die drukwerk wat na verwagting binnekort sal begin.

Chikunga het bevestig dat die departement die nuwe lisensies voor einde April sal druk en beoog om ten minste die eerste 100 per provinsie bekend te stel.

In lyn met internasionale standaarde

Die nuwe lisensies, oorspronklik geskeduleer vir Maart, sal nou verbeterde sekuriteitsmaatreëls bevat, insluitend biometriese data, hologramme en watermerke, om bedrog te bekamp en padveiligheid te verbeter. Volgens Chikunga sal die nuwe kaarte in lyn wees met internasionale standaarde en nuwe tegnologie insluit.

Die voorkant van die kaart sal noodsaaklike inligting soos die bestuurder se naam, geslag, geboortedatum, ID-nommer en lisensiebesonderhede bevat, asook ’n foto en handtekening. Die kaart word van 100% polikarbonaatmateriaal gemaak en sal spesifieke sekuriteitselemente bevat sodat dit nie mee gepeuter kan word nie.

Opmerklike sekuriteitsopgraderings sluit in ’n sekondêre beeld van die lisensiehouer se gesig, mikroteks, tasbare kenmerke en ’n sekuriteitsagtergrond wat oorvleuel met die beeld van die houer.

Lees die oorspronklike berig op OFM Nuus.

Read original story on www.bloemfonteincourant.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button