Ontvoerde sakeman en lyk in Sebokeng gevind
Die sakeman is meer as twee maande gelede in Lenasia naby Soweto ontvoer.
Die polisie, wat uit verskeie taakspanne bestaan, het Maandag ‘n ontvoerde Pakistanse sakeman gered en ‘n 46-jarige vroulike ontvoerder vir moord en ontvoering in Sebokeng gearresteer.
Volgens ‘n voorlopige verslag het drie mans met ‘n BMW X5 die sakeman net meer as twee maande gelede in Lenasia, suid van Soweto ontvoer.
‘n Losprys van R12 miljoen is glo geëis vir die vrylating van die ontvoerde slagoffer. Volgens ‘n ingeligte bron is R800 000 deur die ontvoerde se familie betaal, maar die ontvoerders het meer geeis.
Na ‘n uitgebreide ondersoek het die polisie inligting bekom oor die ligging van verdagtes in Sebokeng. Die inligting is deur die SAPD se Ontvoeringspan tesame met lede van die misdaadintelligensie-eenheid, Gautengse gyselaars- en onderhandelingspan, Germiston Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke), Sedibeng Soek en Redding, SAPD Lenasia en SAPD Evaton opgevolg.
Die slagoffer is in ‘n kamer gevind na ‘n soektog van die geïdentifiseerde eiendom in Zone 6, uitbreiding 1 in Sebokeng.
Die lyk van ‘n ongeïdentifiseerde man is op dieselfde perseel gevind. ‘n Vroulike verdagte is daarna op die toneel gearresteer.
Volgens Luitenant Kolonel Amanda van Wyk het die polisie het ook twee selfone by die toneel gekonfiskeer wat deel sal vorm van verdere ondersoeke. Nog arrestasies word verwag.
Lede van die publiek word versoek om onmiddellik hul naaste polisiestasie of die SAPD se Stop Misdaad-blitslyn nommer by 08600 10111 te skakel indien enige van hul familielede of vriende die slagoffer van ontvoerders word.
Read original story on www.citizen.co.za