Oud-Springbok se vrou in rou ná ‘padvark’ haar bulhond in Mbombela doodry
Marilise Rossouw het alles in haar vermoë probeer doen om ’n ’hondemoordenaar’ vas te trek, maar beide die DBV en polisie het gesê dit is haar verantwoordelikheid om te sorg dat haar hond nie buite rondhardloop nie.
Marilise Rossouw vrou van oud-Springbok Danie Rossouw, is in rou gedompel nadat haar driejarige Engelse bulhond, Mathilda, op 4 Oktober helder oordag voor haar huis doodgery is.
Rossouw het aan die Laevelder beweer dat die bestuurder van die voertuig nie gestop het nie, maar van die toneel weggejaag het.
Mathilda, wat Rossouw liefdevol ‘Tillies’ genoem het, was soos een van haar kinders en het die gesin orals vergesel.
Rossouw woon saam met haar gesin en agt honde in Lost Trailstraat, ’n doodloopstraat naby Laerskool Bergland.
“Ons het die middag omstreeks 16:50 van die Casterbridge-leefstylsentrum teruggekeer. Ek en twee van my kinders het buite in die doodloopstraat hokkie gespeel, saam met die honde, toe ‘n silwer BMW X3 teen ‘n hoë spoed in ons straat afry,” vertel Rossouw.
Sy sê sy het die bestuurder aanvanklik genader om te hoor of hy dalk verdwaal het.
“Ek het na die bestuurder geloop en gevra of ek kon help. Hy het vyandig geantwoord dat hy nie hulp nodig het nie. Ek het hom toe gevra om versigtig te ry en bedag te wees op my honde en kinders.”
Volgens Rossouw se weergawe, en beeldmateriaal wat aan Laevelder verskaf is, het die voertuig vir etlike minute stilgestaan voordat dit weggetrek en oor Mathilda gery het. “Hy het nie eers gestop nie. Hy het net aangehou ry,” sê sy.
Rossouw het onmiddellik na Mathilda gehardloop en probeer vasstel of sy nog lewe.
“Toe ek haar pap lyfie vashou, het ek geweet sy is reeds weg.”
Jaagtog na dierehospitaal
Sy het daarna na die Nelspruit-dierehospitaal gejaag met die hoop dat haar geliefde hond nog gered kon word. Die veearts het Mathilda egter met haar aankoms dood verklaar.
“Ek is stukkend. Hy het haar doodgery voor my kinders. Wat as hy een van my kinders raakgery het?”
Rossouw, ‘n passievolle diereliefhebber en -aktivis, het besluit om die saak nie daar te laat nie. Sy sê sy het probeer om ‘n saak by die Nelspruit-DBV aanhangig te maak, maar kon nie die nodige hulp kry nie.
Inspekteur Michelle Steyn van die Nelspruit-DBV het verduidelik dat dit in gevalle soos dié moeilik kan wees om ‘n saak te ondersoek indien daar nie ’n geïdentifiseerde verdagte is nie.
Volgens Steyn was Mathilda ook nie aan ‘n leiband nie en was sy buite die eienaar se erf.
Sy sê die eienaar is in sulke omstandighede volgens munisipale verordeninge verantwoordelik vir die hond.
Rossouw het Dinsdag, 13 Oktober, weer hulp probeer kry deur die voorval by die polisie aan te meld. “Ek het om 17:00 by die polisie opgedaag. Die polisievrou het gesê hulle kan my eers 18:00 help omdat hulle skof verby was.”
Volgens Rossouw het sy uiteindelik, ná ongeveer twee en ‘n half uur, met ‘n diensdoenende polisiebeampte gepraat. “Hy het gesê hy weet nie hoe om sulke sake te hanteer nie en het my na die DBV verwys.”
Nadat Rossouw verduidelik het dat sy reeds die DBV genader het, het die polisiebeampte glo die inspekteur gekontak om meer inligting oor die voorval te kry.
Volgens Rossouw het die stasiebeampte en inspekteur saamgestem dat dit haar verantwoordelikheid was om na haar hond om te sien. Sy sê daar is ook aan haar verduidelik dat die bestuurder haar kon aankla indien haar hond skade aan sy voertuig veroorsaak het.
Rossouw het uit pure desperaatheid vir Juandré Rautenbach, ‘n sekuriteitspesialis en die uitvoerende hoof van Divergent Ops genader.
“Met Juandré se hulp, kon ons aan die hand van die beeldmateriaal vasstel dat die voertuig se nommerplaat vervals is,” sê Rossouw.
Rautenbach het bevestig dat hulle probeer om die eienaar van die voertuig op te spoor om vas te stel wie moontlik by die voorval betrokke was.
“Die polisie behoort ‘n saak teen ’n onbekende verdagte te kan open. Daar is reeds bewyse wat hulle met die ondersoek kan help,” het Rautenbach verduidelik.
Rossouw hoop dat hulle met die hulp van die privaatsekuriteitsmaatskappy die betrokke bestuurder sal kan opspoor.
Met Mathilda se naamplaatjie om haar nek, vertel Rossouw dat sy haar ‘skaduwee’ geweldig mis.
“Tillies was saam met my by die kinders se skool en die gimnasium. Sy het selfs saam met ons by die kombuistafel gesit,” sê sy.
Mathilda se as gaan saam met ’n foto van haar in Rossouw se huis uitgestal word as ‘n herinnering aan haar troeteldier se liefdevolle en vriendelike geaardheid.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za