Ouers oor beweerde rassisme by Roodepoort-skool: Dis bog!
Ouers van Laerskool Dr Havinga sê hulle staan vierkantig agter onderwysers wat herontplooi is ná rassisme-aantygings.
Die bom wat vroeër in September by Laerskool Dr Havinga in Roodepoort gebars het met bewerings van rassisme, is volgens Roodepoort Record opgevolg deur ‘n wye spektrum ouers wat vir die skool en sy leerkragte in die bresse getree het.
Die koerant het vroeër berig dat twee onderwysers en die skoolhoof tydelik na die Gautengse onderwysdepartement se distrikkantoor toe herontplooi is, terwyl die departement beweerde rassisme by die skool ondersoek.
Die aantygings spruit voort uit ‘n voorval op 4 Augustus waartydens ‘n ouer en onderwyser se meningsverskil slaags geraak het. Bronne het aangedui dat die dispuut oor dissiplinêre stappe was wat die skool teen die kind geneem het. Die ouer word nou deur die polisie ondersoek vir beweerde aanranding, berig die Gauteng se provinsiale polisiewoordvoerder, Kolonel Mavela Masondo, terwyl die onderwyser en twee kollegas departementeel ondersoek word.
Die aantygings teen die skool is ‘absolute bog’, sê ’n ontstoke ma van ’n Gr. 7-seun. “Hierdie onderwysers was nog nooit enigiets behalwe goed vir ons kinders nie. Hulle is geliefd onder ouers en kinders, ongeag kleur. Nie een van hulle sou ooit ’n kind – of ouer – anders behandel oor hulle velkleur nie.”
’n Ander ouer vertel: “Aanvanklik was ek ingestel op enige moontlike ‘anderse’ behandeling wat my kind in ’n Afrikaanse skool sou kon ervaar. Maar hy is nou in Gr. 7 en al van Gr. R af ’n trotse Havie. Hy presteer uitmuntend, is geliefd onder sy maats van alle rasse en is baie lief vir sy juffrouens en hoof. Hy is nog nooit anders behandel as enige ander kind nie en hy het ook nog nooit gesien dat sy maats anders behandel word nie.”
Nog ’n ma sê: “Ons kinders is emosioneel oor die hele aangeleentheid. Hulle is in ’n kritieke stadium van hul Gr. 7-jaar en dit is vir hulle moeilik om aan te pas by die veranderinge, aangesien hul onderwysers nie hier is nie.”
By navraag het die beheerliggaam se voorsitter, Adriaan Gross, gesê: “Die saak word deur die Gautengse Departement van Onderwys hanteer en ons werk volledig saam. Ons kan nie kommentaar lewer oor individuele persone of aantygings nie. Ons fokus bly op die belange van ons leerders en die voortsetting van onderrig.”
“Ons moet klem lê daarop dat die personeellede nie geskors is nie. Hulle is bloot herontplooi totdat die ondersoek voltooi is,” het Mabona gesê.
* Ouers se name en vanne is weerhou om die identiteit van hulle minderjarige kinders te beskerm, soos deur die Suid-Afrikaanse Perskode vereis word.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za