Pasgebore baba in sak onder boom in Ekurhuleni gelaat, sterf ‘n dag later
Twee hawelose mans wat verby 'n plastieksak gestap het, het opgemerk dat dit beweeg en 'n baba binne gevind.
’n Pasgebore baba wat Vrydagmiddag onder ’n boom in Brakpan, Ekurhuleni, in ’n vuil, gebruikte swart vullissak gelaat is, is Saterdag in die hospitaal oorlede.
Die skokontdekking het inwoners verstom en woedend gelaat en het selfs daartoe gelei dat die babatjie, wat net een dag gelewe het, ’n naam van die persone wat hom gered het, gekry het.
Die seuntjie is George genoem, na aanleiding van die feit dat hy voor ’n woning in Prince Georgelaan, ontdek is.
’n 46-jarige vrou wat verkies om anoniem te bly, wat daar naby woon, het aan die Brakpan Herald vertel dat sy en haar seun Vrydagoggend uit hul erf wou ry toe hul deur twee mans, wat haweloos voorgekom het, voorgekeer is.
“Ek het eers vir my seun gesê om te ry maar toe hoor ek een van hulle sê iets van ’n baba in ’n sak onder ‘n boom. Ek het dadelik gaan kyk en die baba in ’n gebruikte swartsak gevind,” het die vrou vertel.
“Die naelstring en plasenta was steeds aan hom geheg. Ons het die nooddienste gekontak en terwyl ons vir ’n ambulans gewag het, het ek net gepoog om die seuntjie warm te hou.”
Nadat hulp opgedaag het, is die pasgebore baba eers gestabiliseer voordat hy na ’n hospitaal vervoer is.
“Op daardie stadium het dit vir my gelyk asof die kindjie goed gereageer het en hy het selfs kleur gekry,” het die vrou vertel.
Sy het Saterdag na die hospitaal gegaan om te hoor hoe dit met die baba gaan.
“Ek is goed ontvang maar kon nie die seuntjie sien nie, aangesien hy op daardie tydstip na die hoësorgeendheid oorgeplaas sou word.
“Ek is ook meegedeel dat dit op daardie stadium nie goed gegaan het met die baba nie. Ek het teruggekeer na my huis en net voor 15:00 ’n oproep van die hospitaal ontvang waartydens ek meegedeel is dat die baba oorlede is,” het die vrou gesê.
Volgens haar was dit nie eens ’n skoon sak waarin die baba geplaas is nie.
“Dit was beslis ’n gebruikte sak en daar was stukkies gemors daarin.”
Die vrou, met die hulp van bure, het gister ’n blou blomkrans met ’n paar blou babaskoentjies gemaak en aan die boom, waaronder die baba gevind is, gehang.
Die woorde ‘Baba George’ asook die datum wanneer hy gevind is (07-03-25) en wanneer hy oorlede is (08-03-25) is op ’n houtkruis aangebring.
Die voorval is by die Brakpan-polisie aangemeld en word ondersoek.
Enige persoon met inligting word versoek om die Brakpan-polisiestasie te kontak by 011 744 4111.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za