Plaaslike veeartse deel kennis oor groot katte met internasionale studente

By ’n toevlugsoord vir groot katte het twee Pretoria-veeartse internasionale studente ingewy in die etiese sorg van hierdie diere.

Twee bekende Pretoria-veeartse het onlangs hul passie vir dierewelsyn en hul kundigheid met groot katte met ’n internasionale gehoor gedeel en dít tussen die gebrul van leeus en die sagte voetval van tierpote.

Professor Gerard Steenkamp van die Universiteit van Pretoria en die ervare wildveearts, dr. Peter Caldwell van Old Chapel Veterinary Clinic in die Pretoriase Moot, het hul kennis en ervaring met 58 veeartsenystudente van regoor die wêreld gedeel.

Pretoria Rekord berig dit was tydens ’n unieke een-dag besoek aan Lionsrock Big Cat Sanctuary naby Betlehem in die Vrystaat.

“Jy sien die verwondering op hul gesigte die oomblik wanneer hulle hul eerste leeu van naby sien,” vertel Steenkamp. “Maar dan gebeur daar iets besonders: die verwondering verander in respek, en uiteindelik in ’n egte gevoel van verantwoordelikheid teenoor die diere.”

Die besoek was deel van die jaarlikse Symposium Committee Wildlewe Simposium, en die toevlugoord vir meer as 150 groot katte van die dierewelsynsorganissie Four Paws, was ’n hoogtepunt op die reisplan.

Moot-veearts en bekende diereredder, dr. Peter Caldwell (groen hemp), wys studente hoe om teaterprotokol met groot katte se behandeling te handhaaf. Foto: Verskaf

In ’n reeks praktiese en teoretiese sessies het die jong studente geleer hoe om nie net gesondheid nie, maar ook waardigheid aan groot katte te herstel met Maru en Simona, twee van die toevlugsoord se trotse bewoners, as geduldige pasiënte vir tandheelkundige behandeling.

Dr. Caldwell, wat al menige wilde dier onder sy sorg gehad het en wêredlwyd deur dierewelsynsorganisasies ingespan word om diere te red en na skuilings te bring, beskryf die dag as “’n kombinasie van opwinding, opvoeding en empatie”.

Hy voeg by: “Ons wou die studente nie net wys hoe om iets te doen nie, maar waarom dit saak maak. Dierewelsyn is nie ’n luukse nie. Dis ’n lewensingesteldheid.”

Tussen toere van die uitgestrekte kampgebiede en diepgaande lesings in die veldkliniek, het studente verlore geraak in ’n wêreld waar die brul van ’n leeu nie net vrees inboesem nie, maar ook bewondering ontlok.

“Dit was soos om weer ’n kind te wees. Alles is nuut, alles is belangrik,” het een deelnemer uit Australië opgewonde gesê.

Volgens Hildegard Pirker, bestuurder van die toevlugsoord, was dit egter meer as net ’n leergeleentheid.

“Hulle het gekom uit nuuskierigheid, maar hulle het weggegaan met deernis,” sê sy met trots. “Ons glo dat as ons jong veeartse aan ware dierewelsyn kan blootstel, hulle daardie waardes sal saamdra of hulle nou in ’n wildreservaat werk of ’n stadskliniek bestuur.”

Wat as ’n gewone opleidingsdag begin het, het vinnig in ’n lewensveranderende ervaring ontaard.

“Ek het nou ’n beter begrip van wat dit beteken om nie net ’n goeie veearts te wees nie, maar ’n etiese een,” het ’n student van Duitsland opgemerk.

Dr. Gerhard Steenkamp (blou hemp en handskoene)versorg ‘n leeu van ‘n toevlugsoord se tande. Foto: Verskaf

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button