Plaasmoorde: Reeds 33 slagoffers vanjaar
TLU SA maan die die regering en minister van polisie om plaasaanvalle ten sterkste te veroordeel.
“Een plaasaanval of -moord, is een te veel. Namens TLU SA spreek ons ons medelye uit teenoor die families.”
Só het dr. Gawie Lötter, die bestuurder van veiligheid by TLU SA, gesê.
Sedert 1990 is daar reeds 2 203 plaasmoorde aangemeld en vanjaar, teen 27 September, was daar reeds 33 moorde op die rekordboek.
“Vir TLU SA wys dit op die opportunistiese optrede van misdadigers. Die politieke klimaat met gesprekke wat fokus op onteiening sonder vergoeding, binne-gevegte in die regerende party en oneffektiwiteit van die SAPD is van die faktore wat klimaat skep vir misdadigers om ekstra kanse te vat,” sê TLU SA.
Die organisasie sê hulle veroordeel hierdie plaasaanvalle ten sterkste en verwag van die regering en minister van polisie om dieselfde te doen en alle middele tot hulle beskikking aan te wend om die misdadigers tot verantwoording te bring.
Daar is onlangs in Mpumalanga twee boere binne vyf dae vermoor. Een van die slagoffers is die wyle dr. Jesse Coleman (73) wie se liggaam op 27 September in ’n plas bloed langs sy geweerkluis in die sitkamer op die plaas Klipspruit tussen Delmas en Bronkhorstspruit gevind is.
Op daardie stadium het AfriForum se streekshoof vir veiligheid in die noordstreek, Llewellyn Hemmens, aan Streeknuus bevestig dat daar in vyf dae ses plaasaanvalle plaasgevind het, waarvan drie moorde was.
“Ons wil ons boere maan om uiters waaksaam te wees. Moenie vir enige rede uit jou huis gelok word nie, nie vir elektrisiteit wat skielik afgaan of as daar iets by jou diere sou foutgaan nie. Skakel in by jou plaaslike veiligheidstrukture en maak gebruik van radiokontak,” het Hemmens destyds gesê.
Read original story on vaalweekblad.com