Polisiebeampte, 6 werknemers in hof ná roof by Shoprite in Ladybrand
Terwyl die polisie na nog drie verdagtes soek wat by 'n gewapende roof by 'n kettingwinkel betrokke was, het sewe beskuldigdes in 'n Vrystaatse hof verskyn.
Sewe verdagtes, onder wie ook ‘n 43-jarige polisiebeampte, het gister in Ladybrand in die Vrystaat voor die hof verskyn in verband met ‘n gewapende roof by die dorp se Shoprite op Donderdag.
Volgens Parys Gazette staan die polisiebeampte, Thabiso Motja, asook Lefu Jonas Monyane (45), Matseko Maketha (31), en vier van die kettingwinkel-werknemers: Matshidiso Maseloa (50), Anny Meshake (37), Maki Maribe (37) en Palesa Malokase (41) tereg op klagte van gewapende roof.
Hulle moet weer volgende Maandag in die hof wees vir formele borgaansoek.
Nóg gesoek
Daar word steeds gesoek na nog drie verdagtes wat by die roof betrokke was.
Polisiewoordvoerder Sersant Mahlomola Kareli sê voorlopige verslae dui daarop dat twee onbekende mans die winkel binnegegaan en die takbestuurder genader het.
Een was geklee in ’n reflekterende polisie-baadjie, terwyl die ander ’n dossieromslag by hom gehad het. Hulle het onder die voorwendsel dat hulle glo ‘n aanrandingsaak ondersoek, toegang tot die winkelbestuurder se kantoor gekry om kwansuis na sekuriteitskamera beeldmateriaal te kyk.
Terwyl hulle in die kantoor was, het hulle die winkelbestuurder met ’n vuurwapen teen die nek geslaan, en ‘n klerk gedwing om die kluis oop te maak. Die verdagtes het met groot plastieksakke, wat ’n onbekende maar aansienlike bedrag kontant en verskeie selfone bevat het, van die toneel gevlug.
’n Enkele skoot is buite die perseel gehoor terwyl die verdagtes gevlug het. Niemand is egter beseer nie.
Polisielid het kriminele rekord
Ná vinnige taktiese reaksie deur die Ladybrand SAPD en K9-eenheid, is ’n wit Volkswagen Polo wat glo as wegkomvoertuig gebruik is, verlate in een van die strate in die dorp gevind. By nadere ondersoek is vasgestel dat die voertuig se registrasienommers nie met die lisensieskyf ooreengestem het nie.
Die SAPD-lid, wat tydens die ondersoek in hegtenis geneem is, was gestasioneer by ‘n Vrystaatse polisiestasie en het ’n kriminele rekord. Hy is voorheen vir ontvoering en afpersing in hegtenis geneem.
Die saak is amptelik oorgedra aan die provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad, moord en roof vir gespesialiseerde ondersoek.
Die polisie het ‘n beroep gedoen op enigiemand wat inligting het oor die verdagtes na wie steeds gesoek word, om speurder Ntingi Mshumpela te kontak by 076 423 5295, of die Misdaadstopnommer 08600 10111 te skakel. Alternatief kan ’n anonieme wenk op die MySAPS-toepassing ingedien word. Inligting sal vertroulik hanteer word.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za