Polisiehond Sky moes nog ‘n kans gekry het, sê Ian Cameron
Vrae word gevra nadat ’n voormalige polisiedienshond dood is ondanks ’n aansoek om vir haar ’n nuwe huis te kry.
“Ek is verpletter.”
Só beskryf Ian Cameron, die voorsitter van die parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie, sy emosies nadat Sky, ’n voormalige polisiedienshond, gister (8 September) by die polisie se veterinêre hospitaal by Roodeplaat naby Pretoria dood is, berig Pretoria Rekord.
Sky se toestand het volgens Cameron oornag só versleg na haar opname by Onderstepoort se dierehospitaal dat veeartse geen ander opsie as genadedood gesien het nie.
Sy het onder meer ’n oop breuk aan haar linkervoorbeen gehad, terwyl weefsel begin afsterf het.
Die beserings was volgens hom só ernstig dat chirurgie en narkose uiters gevaarlik sou wees.
Onderstepoort se dierehospitaal sal nou ’n kliniekgeleide nadoodse ondersoek doen en ’n formele verslag saamstel. Cameron sê dié verslag moet deel vorm van die ondersoek na Sky se dood.
Hy het intussen ’n strafsaak geopen en sê hy steun die besluit van die waarnemende nasionale kommissaris, Luitenant-Generaal Puleng Dimpane, om ’n senior polisiebeampte aan te stel om die omstandighede rondom Sky se dood te ondersoek.
Cameron het aan Rekord gesê die vraag is of die polisie se aanvanklike weergawe van gebeure deur beskikbare getuienis en dokumentasie gestaaf kan word.
Roodeplaat net tydelike tuiste
Volgens Cameron het die polisie gesê dat Sky net tydelik by Roodeplaat gehuisves sou word todat hulle ’n nuwe eienaar vir haar gevind het. Die skenkings- en plasingsproses was nog aan die gang.
Hy sê die polisie se eie veterinêre sertifikaat, wat op 28 Augustus onderteken is, moet ondersoek word. Daarvolgens is Sky reeds in Maart by Roodeplaat opgeneem met beserings wat met kennel stress en vorige ontsnappingspogings verband gehou het.
Die dokument beskryf onder meer wonde aan haar gesig en bene en skade aan haar tande tydens haar Maart-opname.
Sky ontwikkel gedragsprobleme
Renate Barnard, die netwerkkoördineerder by Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke en ’n voormalige polisielid, sê die situasie moet gesien word teen die agtergrond van Sky se loopbaan en haar gedrag.
Sky het volgens Barnard sowat vyf jaar saam met ’n hondegeleier in Thohoyandou in Limpopo gewerk en as brandstigtingsopsporingshond diens gedoen.
Nadat gedragsprobleme by haar geïdentifiseer is, is sy toenemend in ’n hondehok aangehou voordat sy in Maart na Roodeplaat verskuif is.
Volgens Barnard het ’n bevoegde persoon wat sy ken met nagraadse kwalifikasies in dieresielkunde ’n geruime tyd gelede aansoek gedoen om Sky in te neem. “Hy het Sky goed verstaan en haar by die dierehospitaal besoek,” sê Barnard.
Volgens haar het dié aansoeker Sky Maandagoggend (7 September) ná die beseringsvoorval by Roodeplaat gaan haal en self na Onderstepoort geneem.
Barnard skryf die vertraging rondom die aansoek toe aan wat sy as ‘burokratiese rompslomp’ beskryf.
‘Sky moes na ’n geskikte huis gaan‘
Cameron sê dit is een van die kernkwessies wat ondersoek moet word. Volgens inligting wat aan hom verskaf is, het lede van die polisie ook gevra dat hangende die aansoek, Sky selfs tydelik na ’n geskikte huis geneem word terwyl die formele aansoek verwerk word.
Hy sê dié versoek is glo nie na die betrokke senior bevelvoerder deurgevoer nie en die aansoek is ook nie verwerk nie. “Die polisie moet verduidelik hoe ’n sogenaamde aktiewe plasingsproses vir ongeveer 160 dae kon voortduur terwyl daar volgens die beskikbare veterinêre dokumentasie kommer oor die uitwerking van haar omstandighede op Sky was.”
Die gebeure wat op Sondag (6 September) plaasgevind het behoort ook ’n belangrike deel van die ondersoek te vorm. Barnard sê Sky is vanaf ongeveer 16:00 die Sondag tot Maandagoggend alleen gelaat.
Volgens haar behoort Roodeplaat as ’n 24-uur-fasiliteit te funksioneer. Sy sê die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad het reeds ná ’n vorige klagte teen die fasiliteit aangedui dat deurlopende toesig nodig is.
Brendan Murray, ’n diereredder van die Uilreddingsentrum naby Pretoria, sê die aard van ’n Belgiese Malinois moet in ag geneem word wanneer jy ’n eienaar van dié honderas is.
“Om hulle 18 uur per dag in ’n hok toe te sluit, is doodgewoon wreed,” sê Murray.
Volgens hom is ’n werkhond soos ’n Malinois ’n dier met ’n uiters sterk dryfkrag wat ruimte, aktiwiteit, geestelike stimulasie en menslike betrokkenheid nodig het.
“Wanneer jy ’n werkhond, ’n dier wat gebou is met ’n intense, hoë-aandrywingsenjin, driekwart van die dag toesluit, rus jy hom nie. Jy breek hom,” sê hy.
Diere-organisasies ontsteld oor Sky se dood
Samantha Jacobs van Friends of the Rottweiler Rescue and Re-home South Africa, sê haar organisasie is diep ontsteld oor Sky se dood.
“Sky was ’n lewende wese met emosies wat van die mense wat vir haar verantwoordelik was, afhanklik was. Sy het beter verdien. Elke dier verdien beter,” sê Jacobs.
Sy sê die voorval moet ook vrae laat ontstaan oor die behandeling van werkhonde in Suid-Afrika.
Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) het intussen bevestig dat sy Spesiale Projekte-eenheid se inspekteurs gister (9 September) by Roodeplaat was om met ’n ondersoek te begin.
Die organisasie sê die hele fasiliteit sal ook verder geïnspekteer word en dat die saak ingevolge die Wet op Dierebeskerming 71 van 1962 beoordeel sal word. Die NDBV het ook gevra dat die ondersoekers die geleentheid gegun word om die feite volledig vas te stel voordat verdere besonderhede bekendgemaak word.
Die polisie het beklemtoon dat dit voortydig sou wees om nalatigheid of oortreding toe te skryf voordat al die feite vasgestel is.
Brigadier Athlenda Mathe, die nasionale polisiewoordvoerder, sê Sky sal gemis word deur diegene wat vir haar gesorg het. “Ons is ook bewus van die pyn wat haar hanteerders en die K9-gemeenskap in hierdie moeilike tyd ervaar.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za