Pretoria-man kry ‘titel wat niemand wil hê nie’
‘n Pretoria-inwoner meen as iemand só iets vir hom wil sê, moet hulle dit in sy gesig sê, nie teen sy muur verf nie.
‘n Pretoria-man se koffie het vanoggend koud geword toe hy sien wat op sy heining in Annlin geskryf is. Binne minute was die buurt se WhatsApp-groepe aan die gons.
Pretoria Rekord berig dat John Oosthuizen kon sy oë nie glo toe sy seun hom bel en sê hy moet dringend buite gaan kyk nie. Deur die nag is die woorde “Grootste P%S op die blok” groot en duidelik teen sy muur geverf.
“Ek weet nie van iemand wat kwaad is vir my nie,” het Oosthuizen gesê.
In ’n stemboodskap het hy vroegoggend gewaarsku dat daar kameras by sy huis is en dat hy deur die beeldmateriaal sou gaan om te probeer uitvind wie die ‘titel’ vir hom gegee het.
“Hier is kameras hier en ek gaan kyk wie dit is en ek is jammer vir julle want julle gaan ‘n pakslae kry.
“As jy so iets wil sê wees ‘n man en kom sê dit vir my, klop aan my deur en sê dit in my gesig.
“Moenie my heining beskadig nie.”
Teen laatoggend het Oosthuizen reeds die muurskryfsel toegeverf, maar dit was te laat. ’n Foto van die muur was al lankal op sosiale media, waar dit soos ‘n veldbrand versprei het.
Dit was met tye van publikasie nie bekend of hy wel die skuldige kon opspoor nie.
Read original story on www.citizen.co.za