Sakke vol dooie honde lei tot vier se arrestasie in Gauteng
'n Gesteelde munisipale-trok is gebruik om honde, wat vermoedelik in hondegevegte gebruik was, se liggame te stort.
‘n Inwoner van Vanderbijlpark in Gauteng was onlangs geskok toe sy by die groot vullisterrein naby Cape Gate, gemerk het hoe drie mense in ‘n vragmotor, sakke vol dooie honde daar afgooi.
Die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, is ‘n groot diereliefhebber en kon sien dat dit groterige honde in die sakke was.
Sy was egter te skrikkerig om nader te gaan, maar het van sowat 10m weg foto’s van die vragmotor en die sakke met haar selfoon geneem. Volgens haar was daar sowat 15 dooie honde wat daar gestort is.

Sy wou dit egter nie daar laat nie en agter die kap van die byl kom. Daarom het sy dadelik aan die werk gespring om uit te vind aan wie die vragmotor behoort, omdat dit baie soos ‘n munisipale voertuig gelyk het.
Haar ondersoek, met die hulp van ander partye, het daartoe gelei dat daar bevind is dat dit ‘n gesteelde Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit-vragmotor is. Die vragmotor is intussen opgespoor en vier mense is in hegtenis geneem.
Hulle is glo deel van ‘n sindikaat van buite die grense van die Vaaldriehoek, wat groot honde steel en dan vir hondegevegte gebruik. Hulle raak dan van die dooie honde by dié genoemde vullisterrein ontslae.
Hondegevegte in die area
Vaalweekblad het verlede jaar berig oor honde wat langs die R59-snelweg afgelaai is. Die verminkte karkasse van drie uitgegroeide Amerikaanse veghonde is in Oktober langs dié pad gevind en die publikasie het berig dat hoewel dit onder ‘n wolk van geheimhouding gedoen word, hulle verneem dat hondegevegte en gepaardgaande weddenskappe steeds gereeld in die Vaaldriehoek plaasvind.
Groot honde, veral Amerikaanse veghonde, word glo dikwels vir dié doel uit hulle eienaars se erwe gesteel. Honde-eienaars word aangeraai om waaksaam te wees en voorsorg te tref sodat hulle diere nie maklik deur gure karakters uit hulle erwe gelok en gesteel kan word nie.
Read original story on vaalweekblad.com