Soektog na jong pa van eMalahleni eindig tragies
’n Moordsaak word deur die polisie ondersoek nadat 'n vermiste jong pa se lyk Dinsdag deur ’n veewagter gevind is.
’n Angstige soektog na ’n vermiste jong man het in hartseer geëindig vir die familie van dié jong pa, Willie Visser (25), van eMalahleni.
Volgens Witbank Nuus is sy liggaam Dinsdag in die Seekoeiwater-omgewing gevind nadat hy vroeër die week as vermis aangemeld is.
Visser se skoonma, Ina Vice, het hom in Reynorif by ’n vriend afgelaai. Volgens Vice was die plan dat hy later die dag self sou terugstap huis toe.
Toe die pa van ‘n tweejarige kind egter nie teen die verwagte tyd tuis opdaag nie, het die familie begin bekommerd raak omdat dit nie in sy aard was om so lank weg te bly van die huis af nie.
Vice het die hulp van die gemeenskap ingeroep deur op Zello (‘n druk-om-te-praat tweerigtingradio toep) ’n beroep te doen op enigiemand wat hom dalk langs die pad sien stap het, om dit dadelik aan te meld.
Terwyl die soektog voortgeduur het, het Visser se suster, Hanri, haar tot sosiale media gewend. In ’n emosionele pleidooi het sy gevra dat enige persoon met selfs die kleinste bietjie inligting oor waar haar broer is, die familie dringend moet kontak.
Volgens polisiewoordvoerder Kaptein Eddie Hall het ’n veewagter Dinsdag op ‘n liggaam, wat later as Visser geïdentifiseer is, afgekom.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za