Suid-Afrikaners swaar gevonnis in Ekwatoriaal-Guinee

'n Skielike vonnis ruk die families van twee ingenieurs van die Tuinroete wat glo sonder bewysstukke skuldig bevind is.

Die families van die twee mans wat sedert Februarie vanjaar in ‘n tronk in Ekwatoriaal-Guinee gevange gehou is, is verpletter nadat beide mans Vrydag tot 12-jaar tronkstraf en ‘n bedrag van R141m elk gevonnis is.

Die twee ingenieurs, Frik Potgieter (53) van George en Peter Huxham (55) van Langebaan, is beide skuldig bevind aan die beweerde besit van kokaïene in hul bagasie.

Die mans is gevangennisstraf en ‘n skade vergoeding bedrag van $5m, plus ‘n verdere boete, opgelê. Die skade, boetes en die vonnis loop parallel.

“Ons het geen idee wat vorentoe gaan gebeur nie,” het die Potgieter-familie se woordvoerder, Shaun Murphy, aan George Herald gesê.

“Dit is hel. Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Die ouens is onskuldig. Die verwagting was dat hulle vrygespreek gaan word, want sover ons verstaan is daar nie bewysstukke vir die aantygings teen hulle nie. Toe word hulle skielik geslaan met ‘n vonnis van 12 jaar.”

Tans het die families geen kontak met die mans nie. Die enigste kontak was deur besoeke wat deur hul werkgewer se dokter afgelê is. Volgens Murphy het hulle drie doktersbesoeke oor die laaste vyf maande ontvang.

Beide mans geniet regsverteenwoordiging deur ‘n maatskappy wat hul werkgewer, die Nederlandse oliemaatskappy SBM (Single Buoy Mooring), in Ekwatoriaal-Guinee verteenwoordig.

Hulle is albei ingenieurs wat op verskillende platforms vir die maatskappy werk. Hulle het mekaar leer ken na die arrestasie. “Ons gaan verseker appèl aanteken, en het vyf dae om dit te doen,” het Murphy gesê.

“Die vonnis was vir hul regsverteenwoordiging net so ‘n groot skok. Ons is almal baie teleurgesteld, want soos ons verstaan is dit buite die bepalings van die normale strafprosesse wet vir Ekwatoriaal-Guinee. Die ouens is onskuldig. Frik se familie is verpletter, maar staan tans sterk in hul geloof.”

Sy gesin het hom laasjaar in Desember in lewende lywe gesien.

Peter se vrou, Kathy, was histeries toe die vonnis deur SBM aan die familie deurgegee was tydens die daaglikse terugvoersessie.

“Sy en hul familie, wat baie geheg aanmekaar is, was só oortuig dat reg en geregtigheid sou geskied met die uitslag van die verhoor en was aldus diep geskok en stomgeslaan met die resultaat ontvang, en met geen kontak met die mans na bykans vyf maande nie,” het die familie se woordvoerder, Francois Nigrini, gesê.

“Dit is net verskriklik dat ons twee mans wat hul alles vir hul werkgewer, die Ekwatoriaal-Guinee land en sy mense gegee het, nou met sulke onmenslike behandeling moet sit.”

Hulle is in Februarie gearresteer op pad terug na Suid-Afrika na ‘n vyf weke werksessie in Ekwatoriaal-Guinee.

Die twee mans se verhoor was Maandag en die uitspraak was Vrydag gelewer.

Volgens Murphy het die families kontak met mekaar. Drastiese nuwe pogings sal nou aangewend word om Potgieter en Huxham terug in SA te kry.

‘n Nuusvideo oor die saak is verlede week op ‘n plaaslike televisiekanaal van Ekwatoriaal-Guinee, naWETIN, uitgesaai.

Kyk dit hier.

Read original story on www.georgeherald.com

 
Back to top button