Swartruggens-klopjag bevestig SA as top-mark vir sintetiese dwelms
Die ontdekking van 'n massiewe tik-laboratorium op Swartruggens sluit aan by 'n kommerwekkende internasionale tendens waar dwelmkartelle hul bedrywighede na Afrika verskuif.
‘n Klopjag op ‘n onwettige metamfetamien-fasiliteit op Swartruggens het nie net gelei tot die arrestasie van 11 internasionale en plaaslike burgers nie, maar onderstreep ook Suid-Afrika se stygende status as ‘n spilpunt vir globale georganiseerde misdaad.
Beskuldigdes reeds in die hof
Die 11 beskuldigdes het Vrydag (15 Mei) die eerste keer in die hof verskyn. Hulle staan tereg op klagtes van dwelmvervaardiging, die onwettige besit van edelmetale, die onwettige besit van gevaarlike materiale en die oortreding van die Immigrasiewet. Hulle sal weer volgende Vrydag (22 Mei) in die hof verskyn.
Die beskuldigdes sluit mans en ’n vrou van Mexiko in, asook Suid-Afrikaners en burgers van ons buurlande, Mosambiek en Zimbabwe.
Die beskuldigdes is:
- Fabian Astorga (Mexiko)
- Jesus Alonso Medina Astorga (Mexiko)
- Luis Alberto Ramirez Rios (Mexiko)
- Jose Andres Medina (Mexiko)
- Jacquelin Lopez Madrid (Mexiko)
- Ismael Afiado Massingue (Mosambiek)
- Lourenco Constantino Cumbane (Mosambiek)
- Tobias Soyani (Zimbabwe)
- Tyron John Schutte (Suid-Afrika)
- Kyle Schutte (Suid-Afrika)
- Vusi Amos Mkambi (Suid-Afrika)
Volgens kolonel Katlego Mogale sal hulle in aanhouding bly. Die saak is uitgestel om tolke te kry en vir die verifiëring van die beskuldigdes se immigrasiestatus.
Beslaglegging van miljoene rande se tik
Die onwettige vervaardigingsfasiliteit is op 13 Mei tydens ’n intelligensiegedrewe operasie ontdek. Wetstoepassers het op ’n groot hoeveelheid toerusting en chemikalieë afgekom wat met die vervaardiging van onwettige dwelms verbind word, asook op drie vuurwapens.
Forensiese kenners is steeds besig om die misdaadtoneel te verwerk, waar ongeveer 481 kilogram metamfetamien met ’n beraamde straatwaarde van miljoene rande gekonfiskeer is. Daar word verwag dat hierdie hoeveelheid kan toeneem sodra die hele toneel deeglik verwerk is. Die totale beraamde waarde van die laboratorium en toerusting oorskry R1 miljard.
Die vierde laboratorium met Mexikaanse bande
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat hierdie die vierde dwemlaboratorium in Suid-Afrika is met beweerde bande met Mexikaanse kartelle.
In Julie 2024 het die polisie ’n soortgelyke dwemlaboratorium op ’n plaas buite Groblersdal, Limpopo, gevind. Vier mans – twee Mexikaanse burgers en twee Suid-Afrikaners – is destyds op die toneel gearresteer.
Kartelle verskuif na Afrika
Die tydskrif Africa Defence Force het in Maart berig dat dwelmkartelle hul vervaardigingsoperasies na Afrika verskuif. Volgens die tydskrif het Suid-Afrikaanse owerhede in die afgelope agtien maande metamfetamien ter waarde van sowat R2,52 miljard bei drie dwemlaboratoriums gekonfiskeer.
Die Afrika Georganiseerde Misdaad-indeks 2025 lys Suid-Afrika, Nigerië en Egipte as die kontinent se top-markte vir sintetiese dwelms.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za