Tragedie tydens visvangtog in Pacaltsdorp toe jong seun verdrink

'n Ouma en oupa is verpletter nadat hulle 12-jarige kleinseun, wat saam met hulle gebly het, in 'n dam in Rosedale verdrink het.

Wat veronderstel was om ‘n lekker visvanguitstappie vir twee jong vriende te wees het Dinsdag in tragedie geëindig toe Androwwayne Keaton Prins (12) in ‘n dam in Rosedale in Pacaltsdorp verdrink het.

Androwwayne, ‘n leerder by Delville Park Primêr, het volgens George Herald saam met sy oupa en ouma, Frans en Katrina May, in Rosedale gewoon. Volgens hulle is niemand presies seker hoe hulle kleinseun verdrink het nie.

“Hy en ‘n vriend het die middag gaan visvang, en volgens die vriend is dit daar waar hy verdrink het,” sê Frans.

Sy ouma sê hulle sal hom onthou as ‘n vrolike, speelse en vriendelike seuntjie met ‘n groot hart.

“Hy was altyd gewillig om te help en jy kon hom enige tyd roep om ‘n ietsie te gaan doen. Ons gaan hom bitter baie mis … Rus sag, my seun. Ons harte is baie seer. Hy het in soveel mense se harte gekruip, en die gemeenskap is geruk deur sy skielike heengaan.”

Die Pacaltsdorp-polisie het ná die voorval ‘n dossier vir ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.

Volgens die Suid-Kaap-polisiewoordvoerder, Sersant Chris Spies, het die twee seuns gaan visvang toe Androwwayne onder die water verdwyn het.

Sy vriend het gehardloop om hulp te kry, maar toe hy terugkom, was dit reeds te laat.

Androwwayne se liggaam is uit die dam gehaal en paramedici het hom omstreeks 17:00 op die toneel dood verklaar.

Hy word volgende Saterdag begrawe, maar finale reëlings moet nog bevestig word.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.georgeherald.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button