Tweede verdagte verskyn ná moord op Roossenekal-man (78)
Nóg ’n verdagte het in die hof verskyn in verband met die moord op 'n bejaarde man van Roossenekal, nadat verskeie ongelisensieerde vuurwapens by ’n huis in Laersdrif gevind is.
‘n Tweede verdagte het Vrydag in die hof verskyn na die wrede moord op Robert Stoltz (78) van Roossenekal.
Stoltz is op 30 April op die plaas Stofkraal in die Hartelus-omgewing vermoor, berig Middelburg Observer.
Bobo Mokoena is tydens ‘n gesamentlike ondersoek deur verskeie rolspelers in hegtenis geneem op die moord. Hy het kort na sy arrestasie ‘n bekentenis afgelê. Tydens die bekentenis het hy onder meer gesê vir wie hy Stoltz se haelgeweer gegee het.
Mokoena het Maandag in die Groblersdal-landdroshof verskyn en is die saak uitgestel na môre vir ’n formele borgaansoek.

Bazali Mathebula (29) is op 20 Mei gearresteer en het Vrydag in die Groblersdal-landdroshof verskyn op klagtes van besit van ongelisensieerde wapens en ammunisie.
Alhoewel Mathebula nie positief verbind word met Stoltz se moord nie, word hy onder meer aangekla vir die besit van Stoltz se gesteelde haelgeweer. Die haelgeweer was reeds uitmekaar gehaal.
Tydens sy arrestasie op 20 Mei, is ‘n huis deursoek op ‘n plot in Laersdrif en is buiten Stoltz se haelgeweer, ook ander wapens, waaronder ‘n Phoenix-geweer en -ammunisie, nog ‘n haelgeweer en ‘n pistool gevind. Daar is in totaal 218 rondtes ammunisie vir die onderskeie wapens gekry.
Borgtog van R4 000 is toegestaan aan Mathebula en die saak is uitgestel na 23 Junie vir verdere ondersoek.
Die gesamentlike optrede is gedoen deur Bosveld Misdaad Ondersoeke (BMO) onder leiding van Sakkie Louwrens, die Roossenekal-speurdiens, die Sekhukhune-opsporingspan en die polisie se kriminele-rekordsentrum.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za