Veediewe in Mpumalanga bind mans met kettings aan beddens vas

Twee mans is met toue vasgebind en hulle voete aan beddens vasgeketting toe veediewe op ’n plaas toegeslaan het.

Boere in Mpumalanga is dit almal eens dat veediefstal sedert die aanvang van Desember handuit geruk het, nadat die veeplaas van boer Callie Meyer op die Stoffbergpad gisteroggend weer onder skoot gekom het.

Sedert Oktober is agt beeste reeds op Meyer se plaas gesteel, wat nie diefstalle by buurplase rondom sy boerdery insluit nie.

“Ons loop geweldig deur,” het hy vanoggend ná die voorval op sy plaas aan die Middelburg Observer gesê.

Hy is Woensdagaand omstreeks 23:00 deur ’n buurman wat patrollie gery het, laat weet van ’n bakkie wat langs sy plaasheining op die Stoffbergpad staan.

Meyer is self uit maar met sy aankoms by die weiveld was die bakkie weg. Hy en die buurman het toe inspeksie op die plaas gedoen waar hulle op geknipte drade afgekom het.

By ’n kamp op die plaas was drie kallers reeds vasgebind. Daar was ook drie koeie in die drukgang van die kamp. Meyer het die kallers losgemaak en die koeie uit die drukgang gejaag.

Verdere ondersoek kon geen verdagtes oplewer nie.

Mans vasgemaak

Die geselskap is toe na ’n stat naby die kamp waar hulle twee mans gevind het wat aan hulle beddens vasgemaak was. Hulle hande is met toue vasgebind terwyl hulle aan hulle voete aan die beddens vasgeketting was.

Die mans het vir Meyer vertel dat een van die veediewe by hulle gewaak het terwyl sy makkers die kallers en koeie geteiken het.

Met Meyer se aankoms op die plaas was die verdagte steeds by die mans, het hulle gesê. Die veediewe het egter met Meyer se aankoms gevlug en geen spoor kon gevind word nie.

Die buurman wat Meyer van die bakkie in kennis gestel het, het dieselfde voertuig later by ’n huis langs die Elandslaagtepad opgemerk en vir Meyer laat weet.

Hulle is uit na die huis toe en die polisie is ontbied.

Terwyl daar op die polisie gewag is, het die verdagte talle oproepe op sy selfoon gemaak. Met die aankoms van die polisie het die verdagte egter al sy foon kontakte uitgewis.

Meyer sê die man beweer hy het bloot duimgooiers ’n rygeleentheid gebied, en betrokkenheid by die veediefstalpoging ontken.

Hy is gearresteer en was, volgens Meyer, teen gister steeds in aanhouding vir ondervraging. Sy bakkie is ook deur die polisie geskut.

‘Deeglike ondersoek’

Kringtelevisie op die roete word nou nagegaan om te bepaal of die bakkie met enige ander veediefstalle verbind kan word.

“Daar is beslis ’n toename in veediefstalle,” waarsku Meyer en bedank alle betrokkenes, veral die polisie, vir hulle flink optrede.

“Die polisie was tot na 05:00 Donderdagmore nog besig met hul ondersoek, ons bedank hulle vir die deeglike werk.”

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button