Vereeniging kind (11) sterf na volwassenes oor ‘toolbox’ stry

‘n Saak van roekelose en nalatige bestuur is aanvanklik geopen, maar nadat die kind aan beserings beswyk het is dit verander na strafbare manslag.

Waarskuwing: Die storie bevat grafiese materiaal wat sensitiewe lesers kan ontstel.

‘n Stryery tussen twee volwasse mans oor ‘n gereedskapskas (toolbox) het Vrydagmiddag, 9 Februarie, in ‘n tragedie geëindig toe Louise Rakhothule (11), ‘n leerling aan Laerskool Handhawer, dood is.

Volgens ‘n inwoner van die Transvaliahof-woonstelkompleks in Merrimanlaan in Vereeniging se middestad, waar die stryery tussen 13:00 en 14:00 plaasgevind het, het Louis Madeley, ‘n inwoner van een van die wooneenhede, ‘n verhuurder van een van die eenhede gekonfronteer.

Dit het blykbaar gegaan oor ‘n gereedskapskas van Madeley wat die verhuurder na bewering tydens ‘n vorige geleentheid geneem en in sy bakkie gelaai het.

Madeley, wat erkern dat hy vir drie dae ‘onwettig’ in die verhuurder se woonstel gebly het, het na bewering die ingang na die woonstelkompleks met sy silwer Honda Civic versper sodat die verhuurder nie die woonstelkompleks kon verlaat nie en hom binne die kompleks oor die ‘gesteelde’ gereedskapskas gekonfronteer.

Volgens Madeley het hy langs die verhuurder se wit Toyota-bakkie gestaan terwyl die verhuurder in die voeruig was en met hom deur die venster van die voertuig gepraat.

“Ek het die polisie gebel en vir hom [die verhuurder] die foon gegee sodat hy aan hulle kon verduidelik oor my gesteelde toolbox,” het Madeley aan Vaalweekblad verduidelik.

Volgens ooggetuies het die verhuurder met sy Toyota bakkie met ‘n bosbreker (bull bar) voor, weggetrek en Madeley se Honda Civic – wat in daardie stadium die ingang tot die kompleks versper het – gestamp.

Madeley het benadruk dat die bakkie die kleiner voertuig net een keer hard gestamp het.

Die meisie was glo by die hek toe sy deur Madeley se voertuig (wat deur die verhuurder se bakkie gestamp is) teen die palissadeheining vasgepen is.

Bloed op die toneel waar ‘n 11-jarige kind deur ‘n voertuig teen ‘n palisadeheining vasgepen is by die Transvaliahof-kompleks. Foto: Verskaf.

“Ek het mense wat naby die hek was hoor skree. Aanvanklik het ek gedink dat my voertuig aan die brand geslaan het (nadat dit hard gestamp is). Later het ek uitgevind dat die kind tussen die voertuig en die heining vasgepen was,” vertel Madeley.

Volgens Madeley het hy toe sy voertuig aan die gang probeer kry om dit in trurat weg te trek. Die voertuig wou nie aan die gang kom nie en Madeley moes gevolglik die voertuig weg stoot om die kind te bevry.

Louis Madeley se Honda Civic waarmee hy die ingang na die Transvaliahof-kompleks in Vereeniging se middestad versper het. Foto: Verskaf.

Vaalweekblad verneem die kind het beserings aan haar pelvis opgedoen en blykbaar het haar baarmoeder gebars. Sy is na ‘n hospitaal in Johannesburg geneem vir behandeling.

Dinsdag het Vaalweekblad die hartseer tyding ontvang dat sy weens haar beserings beswyk het.

Kapt. Fikile Funda, ‘n woordvoerder van die polisie in Vereeniging, het bevestig dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur aanvanklik geopen is. Nadat die meisie dood is, is dit na ‘n saak van strafbare manslag verander.

Die saak word deur die polisie ondersoek.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ally Cooper

Passionate storyteller with over 30 years’ experience as a journalist, editor, proofreader, content creator, social media manager and public relations and media liaison specialist.
Back to top button