Verpulping van onverkoopte boek-voorraad: Hoekom word boeke nie eerder geskenk nie?
Die vernietiging van duisende boeke het ’n hewige debat in die Afrikaanse boekbedryf ontketen, maar is boekverpulping die einde van ’n era, of is daar steeds hoop vir skrywers en lesers?
Die Afrikaanse boekbedryf het die afgelope week gegons nadat Johan Coetzee, eienaar van Naledi Uitgewers, aangekondig het dat hy noodgedwonge sowat 10 600 onverkoopte boeke moet laat verpulp.
Die redes wat hy aangevoer het was dat dié boeke té veel stoorspasie in beslag neem en dat onverkoopte voorraad tot ’n stewige boete kan lei.
Coetzee het egter vir lesers die opsie gegee om al die voorraad teen R3 ’n boek oor te neem.
Van die boeke wat verpulp sou word, was onder meer die voormalige televisienuusleser Riaan Gruywagen se outobiografie, Wat’s nuus?, en Mathys Roets se memoires, Steeds Mathys.
“Die reaksie was oorweldigend. Dit het my laat besef dat daar steeds baie lesers in die land is. Ongelukkig kan ek nie net ’n paar boeke aan een persoon verkoop nie – hulle moet die hele voorraad by ons koop,” sê Coetzee.
Naledi is een van die min Suid-Afrikaanse uitgewers wat nog nooit enige van hulle boeke verpulp het nie. Trouens, volgens die misdaadskrywer Sidney Gilroy, is dit nie ongewoon in die uitgewersbedryf om boeke te verpulp nie. Van sy boeke het ook al in die slag gebly.
Gilroy sê egter dat uitgewers verskeie pogings aanwend om verpulping te keer.
“Dit bly ’n mors van inset- en produksiekoste vir beide die skrywer en die uitgewer, asook die hele boekbedryf.
“Boeke word gereeld teen groot afslag-pryse verkoop of herbemark wanneer ’n skrywer ’n nuwe titel publiseer.
“Kort voor boeke verpulp word, sal handelaars nóg groter afslag op die boek kry en sal die skrywer ook die geleentheid kry om die boek teen minder as kosprys te bekom.”
Deborah Steinmair, ’n bekende Afrikaanse joernalis en skrywer, is egter meer sinies as Gilroy oor boekverpulping.
“Boekverpulping verpulp die siel van skrywers. Bemark voor jy verpulp. Ek is menigmaal verpulp.”
Die vraag wat ontstaan het ná Coetzee se aankondiging is waarom die boeke nie net aan biblioteke of skole geskenk word nie.
Coetzee sê hy het sakke vol boeke aan ’n tweedehandseboekwinkel in Gansbaai in die Wes-Kaap geskenk, maar hy sê dat die waarde van die onverkoopte voorraad sowat R700 000 beloop.
Die skrywer Helene de Kock, wie se boeke deur Jonathan Ball uitgegee word, sê skenkings aan biblioteke en skole is nie so eenvoudig nie.
“Uitgewers sit ook en kopkrap oor die kwessie. Nuwe boeke word nie verpulp nie. Maar, indien uitgewers die ouer boeke skenk, is daar verwagtinge dat hulle ook van hul nuwer boeke moet skenk.”
Die toekoms van die Afrikaanse boek
Dit is nie die eerste keer dat daar oor die toekoms van die Afrikaanse boekbedryf besin word nie. In die verlede is daar al verwys na die ‘sonsondergang’ vir die Afrikaanse boek.
Gilroy glo dat die Afrikaanse boekbedryf in sy sonsondergang-era is en ’n slagoffer is van korter aandagspan, slimfone en digitale tegnologie wat om ons beperkte vryetyd meeding.
“Daar is doodeenvoudig nie genoegsame hoeveelhede lesers in die ouderdomgroep van 25 tot 40 om die huidige lesers [en kopers] van Afrikaanse boeke vinnig genoeg te vervang nie.

Daar is min onlangse, verteenwoordigende data oor presies hoe oud die mense is wat Afrikaanse boeke koop. ’n Studie van 593 Afrikaanse romanselesers, wat in 2011 gepubliseer is, het bevind dat die grootste groep respondente tussen 40 en 50 jaar oud was. Die deelnemers was lede van ’n romanseklub en nie ’n verteenwoordigende steekproef van alle Afrikaanse boeklesers nie.
Suid-Afrika se National Reading Survey van 2022/23 het wel 4 250 volwassenes se leesgewoontes ondersoek, maar bied nie op sigself ’n presiese ouderdomsprofiel van Afrikaanse boekkopers nie.
“Afrikaanse skrywers staan voor ’n besluit: Skryf óf vir die prestige soos bekendheid en pryse, óf vir die liefde van die saak. Ryk word uit boeke, gaan jy nie word nie. Ek skryf uit my liefde vir Afrikaans – ’n hartseer realiteit as jy in ag neem dat my verkope in alle opsigte as baie ‘suksesvol’ gesien word.”
Afrikaanse boeke kos deesdae tussen R350 en R400 per boek en selfs aktiewe lesers kan nie meer soveel aan ’n boek bestee nie.
Die internet bied ook aan baie opkomende skrywers die geleentheid om hulle boeke in digitale vorm aan lesers bekend te stel teen beginpryse van tussen R50 en R100.
Tweedehandseboekwinkels
Vir diegene wat regtig nie ’n nuwe boek kan bekostig nie, is tweedehandseboekwinkels ’n boekwurm se geliefkoosde snuffelplek.
André van Tubbergh, die eienaar van die tweedehandseboekwinkel-kettinggroep Lizmar Books, sê mense lees nie minder nie, maar dat hulle minder geld het om aan nuwe boeke te bestee.
Hy het sowat 124 takke landswyd gehad en het aan 120 mense werk verskaf, maar moes weens persoonlike redes begin afskaal.
“Ons winsmarge is presies dieselfde as ’n paar jaar gelede. Dit is ’n bewys dat daar nog lesers in Suid-Afrika is.”
Van Tubbergh se besigheidsmodel is nie geskoei op skenkings nie, maar op boeke wat hy aankoop.
Terwyl Coetzee glo dat daar oor tien jaar net tweedehandseboekwinkels gaan wees, glo Van Tubbergh dat sy mark nie sonder die uitgewers en skrywers kan oorleef nie.
“Lesers koop nuwe boeke, byvoorbeeld van Deon Meyer, en herverkoop dit weer aan ons.
“Ons verkoop dit dan weer teen minder as die helfte van die prys as wat die leser vir ’n splinternuwe boek in ’n boekwinkel sou betaal.’’
Ongelukkig kry nie die skrywer of die uitgewer enige geld uit die herverkoop van boeke nie.
Gilroy glo nie dat skrywers teen die tweedehandseboekmark beskerm moet word nie.
“Wanneer ’n leser ’n tweedehandseboek aanskaf teen ’n kwart of minder van die oorspronklike prys, doen hulle my as skrywer eintlik ’n guns.
“Ek word gelees, daar word oor my gepraat en my vorige boek(e) word bemark teen ’n fraksie van die koste van ’n advertensie in ’n koerant of op radio of televisie. Dit is deel van die ekosisteem en is nodig vir die boekbedryf om gesond te bly.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za