VF Plus-raadslid in Vereeniging-hof oor beweerde vals grade
Bewerings oor ’n Emfuleni-raadslid se akademiese kwalifikasies word nou, kort voor die plaaslike regeringsverkiesing, in 'n hof getoets.
Gerda Senekal, ‘n VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het gister (15 Julie) vlugtig in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde bedrog wat verband hou met haar akademiese kwalifikasies.
Volgens Vaalweekblad is die saak uitgestel.
Senekal het nog nie op die aanklag gepleit nie en die bewerings teen haar is nog nie in die hof getoets nie.
Die aanklag hou verband met bewerings dat Senekal valslik sou voorgehou het dat sy grade in politieke wetenskap en openbare administrasie verwerf het.
Verskeie lede van die VF Plus het die hofverrigtinge bygewoon, onder wie die party se Gautengse leier, Jaco Mulder, en die Emfuleni-raadslid Hein van der Lith.
Ná afloop van die verrigtinge het Mulder aan Vaalweekblad gesê hy meen die strafregtelike klagte spruit uit optrede deur die geskorste VF Plus-lid, Kobus Hoffman.
Volgens Mulder sal Hoffman se optrede volgens hom ook mettertyd onder die vergrootglas kom.
Hoffman het vroeër aan Vaalweekblad bevestig dat hy die klagte in 2023 by die polisie ingedien het. Volgens hom is die aangeleentheid vooraf ook binne die party aangeroer.
Die saak is uitgestel tot 29 Julie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za