VF Plus-raadslid in hof oor beweerde bedrog met akademiese kwalifikasies
Van 'n interne partyaangeleentheid tot 'n strafsaak. Die bewerings oor 'n VF Plus-raadslid se akademiese kwalifikasies word nou, kort voor die plaaslike regeringsverkiesing, in die hof getoets.
OPDATERING – 2026/07/15 – 15:00
Redakteursnota (15 Julie 2026): Hierdie berig is opgedateer om twee feitelike foute reg te stel.
- Die strafregtelike klagte teen Gerda Senekal is in 2023, en nie in 2024 soos aanvanklik berig, aanhangig gemaak.
- Die berig is ook aangepas om te weerspieël dat die hofverskyning op 15 Julie 2026 Senekal se eerste hofverskyning in die saak was.
VEREENIGING – Gerda Senekal, ‘n VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het Woensdag (15 Julie) vlugtig in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde bedrog wat verband hou met haar akademiese kwalifikasies.
Die saak is uitgestel.
Senekal het nog nie op die aanklag gepleit nie en die bewerings teen haar is nog nie in die hof getoets nie.
Die aanklag hou verband met bewerings dat Senekal haar akademiese kwalifikasies valslik sou voorgestel het.
Die aanklag hou verband met bewerings dat Senekal valslik sou voorgehou het dat sy grade in politieke wetenskap en openbare administrasie verwerf het.
Verskeie lede van die VF Plus het die hofverrigtinge bygewoon, onder wie die party se Gautengse leier, Jaco Mulder, en die Emfuleni-raadslid Hein van der Lith.
Ná afloop van die verrigtinge het Mulder aan Vaalweekblad gesê hy meen die strafregtelike klagte spruit uit optrede deur die geskorste VF Plus-lid, Kobus Hoffman.
Volgens Mulder sal Hoffman se optrede volgens hom ook mettertyd onder die vergrootglas kom.
Hoffman het vroeër aan Vaalweekblad bevestig dat hy die klagte in 2023 by die polisie ingedien het. Volgens hom is die aangeleentheid vooraf ook binne die party aangeroer.
Die saak is uitgestel tot 29 Julie.
