Video: Dit is óf ek óf hulle, glo beskuldigde in Chubby Chick-skietvoorval

'n Sielkundige het in Potchefstroom getuig dat 'n skietery waarin twee mans oorlede is, spruit uit die beskuldigde se oortuiging dat dié broers hom al jare lank probeer vergiftig.

Waarskuwing: Hierdie berig bevat ‘n grafiese foto en video wat sensitiewe lesers kan onstel

Die streekhof in Potchefstroom het gister (11 Mei) tydens getuienis van ‘n kliniese sielkundige gehoor dat Robert Joubert (73) glo dat hy die Fourie-broers, Deon en Jonathan, in selfverdediging geskiet het, nadat hulle hom na bewering vir jare probeer vergiftig het.

Volgens Potchefstroom Herald het die kliniese sielkundige Claire Hearne, wat Joubert op 20 Februarie 2026 by Potchefstroom Korrektiewe Dienste geëvalueer, die getuiebank ingeneem en getuig dat Joubert glo dat die skietvoorval van 10 November 2025 by Chubby Chick, spruit uit sy oortuiging dat die Fourie-broers hom al jare lank probeer vergiftig.

Volgens Hearne het Joubert tydens die evaluasie volgehou dat hy uit selfverdediging opgetree het. “Sy presiese woorde was: ‘Dit is ek of hulle’,’” het sy aan die hof gesê.

Jarelange twis

Volgens Joubert, soos verwoord deur Hearne, het hierdie beweerde teiken begin nadat hy sowat 40 jaar gelede die broers se pa, John, in ‘n straatwedren geklop en glo verneder het. Joubert beweer dat die broers glo voortgegaan het om hom te vergiftig, uit lojaliteit aan hulle pa.

Joubert het ook tydens die evaluasie gesê hy was vir jare onseker oor wie hom glo teiken, totdat ‘n ontmoeting met die broers se ma hom oortuig het dat dit dié familie is wat agter sy beweerde vergiftiging en persoonlike lyding sit.

“Hy het gesê die manier hoe sy hom gegroet het, het hom laat besef die familie sit daaragter.”

Hearne het verder getuig dat Joubert vermoed dat ‘n vriendin ook omgekoop is om hom te vergiftig, iets wat volgens hom tot ‘n ernstige siekte en hospitalisasie in Londen gelei het.

Tydens die evaluasie was hy oortuig daarvan dat ‘n giftige gas, Novichok, ‘n hoogs toksiese senuwee-agent wat in die 1970’s ontwikkel is, in die vertrek vrygestel word om hom te vergiftig. Volgens Hearne glo hy vandag steeds dat hy in sy sel vergiftig word.

Gesondheid

Joubert het byna sy hofverskyning misgeloop weens ‘n tekort aan ‘n rolstoel by Potchefstroom Korrektiewe Dienste. Sy gesondheid het sedert sy vorige verskyning merkbaar verswak, en sy fisiese toestand was sodanig dat hy nie tydens die verrigtinge kon staan nie. Hy het deurentyd geïrriteerd voorgekom en gereeld gesug.

Die staat het aangevoer dat hulle teen gisteroggend nog nie die verdediging se sielkundigeverslag ontvang het nie. Die verdediging het egter aangedui dat die verslag eers bekendgemaak sal word nadat daar sekerheid is dat dit nie met derde partye gedeel word nie, en het verkies dat die kliniese sielkundige eerder mondelings getuig.

Die staat het hierteen beswaar gemaak en volgehou dat die inhoud in elk geval in ‘n oop hof bespreek sou word. Hulle het ook aangevoer dat hulle in ‘n onregverdige en moeilike posisie geplaas word.

Ná ‘n uitgebreide verduideliking van die assesseringsproses, het sy getuig dat Joubert gediagnoseer is met waanversteuring, algemene angsversteuring en paranoïede persoonlikheidsversteuring. Haar aanbeveling is dat hy vir verdere psigiatriese waarneming en behandeling verwys moet word.

Robert Joubert tydens sy hofverskyning op 11 Mei in die Potchefstroom-landdroshof. Foto: Tania Coetzee

Intussen het die verdediging ook aansoek gedoen dat Joubert na ‘n privaat hospitaal in Pretoria oorgeplaas word vir operasies aan sy arms en vir die verwydering van ‘n gewas bo sy linkeroog. Hulle het aangevoer dat, ondanks die erns van die klagtes, hy steeds op behoorlike mediese sorg geregtig is. Volgens die verdediging is Potchefstroom-hospitaal nie bereid om hom te behandel nie.

Die staat het egter aangedui dat hulle die aansoek eers gisteroggend ontvang het en dat dit nie betyds of volledig ingedien is nie. Hulle het verder aangevoer dat relevante rolspelers, insluitend die polisie en korrektiewe dienste, vooraf in kennis gestel moes word. Die staat het ook versoek om die skriftelike sielkundige verslag te ontvang en tyd gegun te word om dit te bestudeer en te kruisondervra.

Die saak is tot 1 Julie uitgestel om die staat die geleentheid te gee om die verslag te hersien en vir die verdediging om ‘n behoorlik gemotiveerde aansoek in te dien.

Die Fourie-gesin het vir Johan le Grange en Gerrie Nel as hulle regsverteenwoordigers aangestel.

Kyk ‘n video van die hofverskyning:


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.
Back to top button