Video: Hondjie na 6 ure uit dreinpyp in Vereeniging gered

Twee brandweermanne wat van diens af was sowel as ‘n Wild Life Rescue ekspert was deel van die reddingspoging.

Toe ‘n afgetrede onderwyser in Vereeniging se geliefde hondjie diep onder die grond in ‘n smal stormwaterpyp vasgekeer raak, het alle hoop gekwyn dat sy lewend gevind sou word. Maar in ‘n hartverwarmende vertoning van gemeenskapsgees het nooddienswerkers saamgespan en die beangsde hondjie na ‘n ure-lange reddingspoging bevry.

Die drama het die betrokke Vrydagmiddag in Desember begin toe Jerry Fowlds, ‘n bekende oud-onderwyser van die Vaaldriehoek, saam met sy seun na ‘n bou-terrein gery.

Omdat Fowlds gesondheidsprobleme het en nie meer self met sy hondjies, Klippies en Krompie, kan gaan stap nie, het hy hulle saamgeneem om op die terrein rond te hardloop.

Die een oomblik het hulle nog energiek rondgesnuffel maar skielik was Klippies spoorloos. Fowlds en van die omstanders het besef Klippies het in een van die dreinpype beland, wat sowat 1 meter diep en 50 meter horisontaal onder die grond in loop. Klippies kon op enige plek in die ondergrondse pyp wees, maar niemand kon bepaal waar nie.

Haar geblaf kon nog sowat ‘n uur lank gehoor word, en toe word sy stil. ‘n Erg besorgde Fowlds het nie geweet of sy hondjie nog leef of reeds versmoor het nie.

Toe Fowlds se dogter, Hettie, van die petalje hoor, is sy dadelik daarheen met haar hondjie, Daisy, in die hoop dat dié sou kon aandui waar presies Klippies onder die grond is. Ongelukkig het dit nie gewerk nie.

‘n Werktuigkundige op die terrein, Pieter van Staden, het sy eie hondjie, Jakkals, aangepor om te blaf en skielik het Klippies ook weer uit die donker dieptes met ‘n blaf geantwoord. Almal was dankbaar dat sy nog leef maar die vraag was steeds hoe om haar uit die meters-lange ondergrondse pyp terug te lok.

Iemand het die blink voorstel gemaak om ‘n stuk KFC aan die voorpunt van ‘n lang pyp vas te maak en Klippies te probeer teruglok na die opening, maar dit was vergeefs.

Morné Mommsen, ‘n brandweerman en bekende hondeopleier, is gekontak om raad te vra. Hy was egter op siekverlof na ‘n groot rugoperasie en kon nie self kom help nie, maar het dadelik almal wat ondersteuning kon gee, se hulp ingeroep.

Twee brandweermanne wat van diens af was, Tertius Engelbrecht en Callie Vermeulen, het opgedaag en Vaughn Veale van Wild Life Rescue het ook ekspert-advies kom gee.

Selfs ER24 was ‘n rukkie daar.

‘n Hele span het begin kap om by die ondergrondse dreinpyp uit te kom.

“Die oorverdowende geluide moes baie traumaties vir arme Klippies gewees het, maar ek was die bekommerdste oor my pa. Ek weet hy het ondraaglike pyn verduur in die ses ure wat Klippies vasgekeer was, maar hy wou daar bly tot sy hondjie uitkom,” het Fowlds se dogter gesê.

Vermeulen kon uiteindelik halflyf en kop-onderstebo in die dreinpyp inhang en na Klippies roep. Sy het nader geskuifel maar hy moes haar die laaste entjie aan haar pootjies uittrek.

“Die oomblik was vir ons almal oorweldigend groot toe sy uiteindelik uit was,” sê Hettie.

Klippies is ongedeerd en is weer haar ou self, veilig op oubaas se skoot. Die Fowlds-gesin bedank graag almal wat hul Vrydagaand opgeoffer het om Klippies te red.

 

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button