Video: Klein brandslagoffer (4) van Brakpan gegroet met roerende afskeid

Met roosblare, wit duiwe en gebroke harte het familie en vriende afskeid geneem van die vierjarige Warnu Meyer, wat in 'n huisbrand in Brakpan gesterf het.

Die ouers, familie, vriende en belangstellendes het Dinsdag afskeid geneem van die jong brandslagoffer van Brakpan, Warnu Meyer.

Dié vierjarige seuntjie is op 22 Junie dood toe ’n brand in sy ouerhuis in Queenlaan uitgebreek het. Hy het saam met sy jonger boetie, Caleb (2), in ’n kamer geslaap toe die brand ontstaan het.

Sy ouers, Armand Meyer (23) en Makayla Strauss (22), kon daarin slaag om saam met Caleb uit die brandende huis te ontsnap.

Die diens, om sy kort lewe op aarde te vier, het vanuit die AGS Kerk, Lofoord in Springs plaasgevind, waar past. Niel Smit ’n kragtige boodskap gelewer het.

’n Uiters somber atmosfeer het in die kerk geheers toe Armand en Makayla laaste ingestap het met die kissie wat hul kind se oorskot bevat het.

Mense het hoorbaar gesnik terwyl die ouerpaar mekaar ondersteun het.

Smit het gesê dat Warnu ’n “legend” en ’n held was. Hy het gesê dat die klein seuntjie altyd onthou sal word vir sy glimlag en sy bereidwilligheid om te help.

“Hy was ’n superheld in klein skoene, wat altyd sy mamma of pappa wou help.

“Hy was lief vir diere en hy was nie bang vir spinnekoppe nie. Wanneer hy kon visvang, was hy ook baie gelukkig,” het Smit gesê.

“Sy lewe moet vir ons ’n inspirasie wees, want Warnu het nie voorgegee nie; wat jy gesien het, is wat jy gekry het,” het hy gesê.

“Warnu sal voortleef as ’n superheld in almal se harte.”

Nadat daar na ’n skyfievertoning gekyk is, het die mense na buite beweeg waar die laaste eer aan Warnu betoon is deur roosblare rondom sy kissie neer te lê. Daarna is wit duiwe, wat ’n paar keer om die kerk gevlieg het, vrygelaat.

Wit duiwe is na die diens buite die kerk vrygelaat.

 

Warnu se ouers, Armand Meyer (23) en Makayla Strauss (22) voor die diens wat vir Warnu vanuit die AGS Kerk, Lofoord in Springs gehou is. ‘n Hartseer Makayla het gesê sy wil glimlag vir haar kind.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button