Video: NWU ondersoek ‘Kill the Boer’-sang voor koshuis in Potchefstroom
’n Video wat op sosiale media versprei word, wys hoe 'n omstrede lied voor een van die kampus se koshuise gesing word.
Die NWU ondersoek tans ’n voorval waarin die kontroversiële lied Kill the Boer, Kill the Farmer voor een van die koshuise op die Potchefstroom-kampus gesing is.
Potchefstroom Herald berig die voorval het gisteraand omstreeks 23:00 plaasgevind. ’n Video van die dreunsang is deur AfriForum Jeug op sosiale media gedeel. Daar kan duidelik gehoor word dat iemand ‘Kill the Boer’ sing.
Hierdie woorde is die Engelse vertaling van die IsiXhosa lied Dubul’ ibhunu.
“Hoe kan dit toegelaat word op ’n kampus waar studente veronderstel is om veilig te voel?” het die organisasie op hulle Facebookblad gevra.
Die NWU se direkteur van korporatiewe kommunikasie, Louis Jacobs, sê: “Die NWU beskou die skending of oortreding van menseregte, beleide en reëls in ’n ernstige lig en veroordeel ten sterkste enige optrede of gedrag wat poog om sy waardes te ondermyn. Daarom het die universiteit die nodige ondersoek na die beweerde voorval begin. Ons verseker ons belanghebbendes dat daar teen enigiemand wat skuldig bevind word, ferm opgetree sal word in ooreenstemming met toepaslike reëls en regulasies.”
AfriForum Jeug het ’n petisie op hulle webtuiste van stapel gestuur om druk op die universiteit vol te hou sodat daar opgetree word.
Waarskuwing: Die volgende video bevat sterk taalgebruik
Kyk die video:
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za