Video: Skote klap toe Vryheidsfront-man losbrand op rowers in Gauteng
'n Lid van die Vryheidsfront Plus was in 'n skietery in Meyerton betrokke nadat gewapende mans op 'n juwelierswarewinkel toegeslaan het.
Die skote het gistermiddag in Lochstraat in Meyerton buite Vereeniging geklap toe rowers en ‘n Vryheidsfront Plus-lid van die Gautengse wetgewer op mekaar losgebrand het.
Die groep swaar gewapende rowers het egter met die verkeerde man te doene gekry.
Kobus Hoffman, ‘n bekende Vryheidsfront politikus van Meyerton en kampvegter vir die regte van wettige vuurwapeneienaars, is ‘n lid van die Gautengse wetgewer en dien op die provinsie se veiligheidsraad.
Volgens Abel die Klerk (59), die eienaar van Loch Street Manufacturing Jewellers, het twee mans wat hulself as klante voorgedoen het omstreeks 12:45 sy winkel binnegestap en later vuurwapens uitgepluk.
De Klerk het blykbaar albei die vuurwapens gegryp en die mans aan die vuurwapens binne die winkel getrek.
Hy het toe uit die winkel gehardloop, waarna die mans glo skote op hom afgevuur het.
Hoffman en sy kollega Pierre Wheeler, wat in daardie stadium in die Vryheidsfront Plus se kantoor langsaan was, het die lawaai gehoor en ondersoek ingestel.
Hoffman en Wheeler, wat albei hulle vuurwapens byderhand gehad het, het blykbaar om die muur gestap gekom toe die rowers glo op hulle losgbrand het.
“Ek het die oom van die juwelierswarewinkel hoor skee, hy het vir hulle weggehardloop. Hy het om die hoek gehardloop gekom en geskree.
“Ek het uit die kantoor uit gekom en om die muur geloer, toe sien ek die ou staan vir ons en kyk. Hy het ‘n vuurwapen gerig. Hy het op ons geskiet, maar die betonmuur getref.
“Ek het toe teruggeskiet,” vertel Hoffman.

Wheeler, wat ook gewapen was, het ook skote op die rowers afgevuur nadat hulle eerste op Hoffman en Wheeler geskiet het.
Blykbaar was die rowers met outomatiese aanvalsgewere gewapen. Hoffman en Wheeler was met 9mm-pistole gewapen.
Op beeldmateriaal van die wit Mercedes-Benz waarmee die verdagtes op die vlug geslaan het lyk dit of ‘n paar van Hoffman en Wheeler se skote die voertuig getref het.
Die polisie van Meyerton het na die voorval beslag op Hoffman en Wheeler se vuurwapens gelê.
Volgens De Klerk het die rowers ongeveer 600 silwer ringe, sowel as al sy goue kettings, gebuit.
Hy sê die twee klante wat by hom in die winkel was het nog al hulle besittings.
Dit is blykbaar die derde keer wat daar probeer is om hom te beroof en hierdie keer het hulle wel geslaag.
*Vaalweekblad verstaan die voertuig wat tydens die rooftog gebruik is word verbind met ‘n onlangse rooftog by die Vaal Mall. Die koerant wag nog vir amptelike terugvoer van die Meyerton-polisie en het reeds navrae aan konst. Tlaleng Moloi, ‘n polisiewoordvoerder, gestuur.
Read original story on vaalweekblad.com