Video: Sluis by Vaaldam oopgetrek
Daar word verwag dat nog water die Vaaldam, wat tans 106% vol is, in die volgende drie tot vier dae gaan bereik.

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) sê een van die Vaaldam se sluishekke is gister omsteeks 12:00 oopgetrek.
Die sluishek is oopgetrek om die stygende watervlakke as gevolg van aanhoudende reënval te bestuur.
Tans is die dam op 106.14%, wat amptenare genoop het om op te tree in ‘n poging om die damvlak op 105% te probeer hou.
Die oop sluishek sal na verwagting tussen 110 en 130 kubieke meter per sekonde (m³/s) water vrystel en sal oor die langnaweek oop bly terwyl owerhede toestande fyn dophou.
Hierdie vrystelling vervang die vorige uitlaatkleppe, wat 60.1 m³/s vrygestel het, maar nie die vereiste volume kon hanteer nie.
Volgens die departement is die beheerde vrystelling binne veilige operasionele perke en word dit nie verwag om oorstromings van rivierbanke stroomaf te veroorsaak nie.
Inwoners in laerliggende gebiede word egter aangeraai om waaksaam te bly.
Verder stroomaf, by die Bloemhofdam, is uitvloeie ook verhoog na 250 m³/s vanaf 10:00 vanoggend.
Hierdie proaktiewe maatreël is daarop gemik om die bykomende water wat van die Vaaldam verwag word binne die volgende drie tot vier dae, te akkommodeer.
Tans is die Bloemhofdam op 97.6%, en die verhoogde uitvloeie is daarop gemik om te verhoed dat dit 100% oorskry.
Die DWS sê beide damme sal noukeurig gemonitor word en vrystellings sal aangepas word soos nodig om die damvlakke en stelsel effektief te bestuur.
Inwoners en boere langs die Vaalrivier word aangemoedig om op hoogte te bly van verdere opdaterings oor watervlakke en moontlike risiko’s.
Read original story on www.citizen.co.za