Vroue aangerand, verkrag: Oud-polisiekaptein verskyn in Middelburg-hof

’n Oudpolisieman wat verlede week in die Kaap in hegtenis geneem is, het in die hof verskyn op 37 klagte, waaronder 11 verkragtingsake.

’n Oudpolisieman wat onder meer in Middelburg, Mbombela en Sekunda gewerk het, het vandag in die streekhof op Middelburg verskyn.

Volgens Middelburg Observer het die beskuldigde, ‘n voormalige polisiekaptein, moeg voorgekom tydens sy verskyning en het dadelik omgekyk na waar sy broer en nog twee ander persone in die hof gesit het.

Hy is verlede week in die Kaap in hegtenis geneem. Vandaar is hy na Middelburg vervoer waar hy gistermiddag aangekom en vanoggend vlugtig verskyn het.

Advokaat Derik Rowles kla aan vir die staat en die prokureur vir die verdediging is Josef van Eeden. Die saak is uitgestel vir ’n formele borgaansoek na volgende Vrydag.

Verkragting en aanranding

Volgens die klagstaat is daar 37 klagte teen die beskuldigde. Dit sluit in 11 klagte van verkragting, ses vir onsedelike aanranding, vyf vir seksuele aanranding, 13 vir geslagsgeweld en een vir crimen injuria.

Van die klaers was minderjarig tydens die beweerde voorvalle. Die presiese klagte deur die 13 klaers is nie aan die beskuldigde gestel nie.

Deur die jare het die Middelburg Observer verskeie berigte gedoen oor dié polisieman se beweerde wandade.

Hy is in 2011 uit die polisie ontslaan, maar is later weer aangestel.

Vorige voorvalle

Ná ’n voorval in Middelburg in 2019 waar ’n vrou klagte gelê het van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot verkragting, is hy weer ontslaan, maar het tydens arbitrasie sy saak teen die polisie gewen en sou weer heraangestel word. Die polisie het egter appèl aangeteken en die saak is nog hangend.

Kort voor hierdie voorval is die beskuldigde se vriendin op 27 Januarie daardie jaar dood in die Loskopdam-omgewing. Daar word beweer dat sy uit ’n voertuig gespring of gestamp is. Dié geregtelike doodsondersoek om te bepaal of iemand vervolg gaan word is nog nie afgehandel nie en gaan aanstaande jaar voort, nadat die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat in hulle ondersoek bepaal het dat daar nie genoeg bewyse is om hom te vervolg nie.

Dié vrou se familie was in die hof en die beskuldigde het direk met die meisie se ma oogkontak gemaak. Hulle het buite die hof aan die koerant gesê dat hulle dié saak ook sal volg, al het dit niks met die oorledene se saak uit te waai nie. Haar ma was baie emosioneel tydens die gesprek.

  • Deur die jare het die Middelburg Observer talle berigte gedoen oor klaers wat na vore gekom het en bewerings gemaak het. Ten minste twee het gesê dat hulle op sypaadjies wakker geword het nadat hulle saam met hom was.
  • Die beskuldigde is saam met ’n beskuldigde in ’n moordsaak vanaf die Kaap na Middelburg vervoer. Die ander beskuldigde het ook in die hof op Middelburg verskyn vandag, maar sy naam mag nie nou genoem word nie, omdat daar ’n uitkenningsparade gehou moet word.
  • Die identiteit van die oud-polisiekaptein mag nie bekendgemaak word nie omdat hy nog nie in die hof op die klagte gepleit het nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button