Wrede aanranding: ‘Bejaardes moet teen mense soos jy beskerm word,’ sê landdros

’n Man van die suide van Johannesburg wat glo genot daaruit put om bejaardes aan te rand, is in die Booyens-landdros skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstige te beseer.

‘n Bejaarde vrou wat drie jaar gelede aangerand is, het uiteindelik geregtigheid gevind nadat die Booysens-landdroshof in Johannesburg-Suid vroeër die week beveel het dat haar aanvaller R10 000 skadevergoeding aan haar moet betaal.

Dié deurbraak volg ná ’n uitgerekte regstryd waarin die burgeregteorganisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir Lucille Oosthuysen (toe 79) en haar man, Will, bygestaan het.

Dylan Ferreira (31), wat in Mei 2024 skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, is ook ’n verdere boete van R10 000 of 12 maande gevangenisstraf opgelê, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Deurslaggewende beeldmateriaal  

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook aan die Nasionale Vervolgingsgesag oudiovisuele toerusting voorsien wat nodig was om deurslaggewende beeldmateriaal in die hof voor te lê.

Die video, wat Ferreira se aanval op Oosthuysen vasgevang het, het ’n kernrol in die staat se saak gespeel en het sy skuldigbevinding verseker.

Wreedaardige aanranding

Landdros Nicola Olivier het die aanranding, wat op 5 Augustus 2023 in Mayfield, suid van Johannesburg plaasgevind het, as wreedaardig beskryf.

Daar was ’n dispuut oor ’n stel spaarsleutels vir ’n eiendom wat Ferreira en sy lewensmaat by die Oosthuysen-egpaar gehuur het.

Die argument het daartoe gelei dat Ferreira vir Oosthuysen neergestamp het.

Ferreira het in die hof aangevoer dat hy uit selfverdediging opgetree het. Oosthuysen het ’n wond aan die agterkant van haar kop opgedoen, asook ’n gekraakte linkerpols en ernstige kneusplekke aan haar heup.

Bejaardes moet teen mense soos Ferreira beskerm word

Tydens die vonnisoplegging het die landdros gesê bejaardes moet teen aanvalle en mense soos Ferreira beskerm word. “Jy kan jou in geen leeftyd van hierdie skuld kwytskeld nie. Jy moet die trauma, die pyn en die lyding verstaan wat jy die klaagster en haar familie aangedoen het. Die ongelukkige gevolg van jou optrede is dat jy nou ’n veroordeelde misdadiger is en vir jouself ’n kriminele rekord verwerf het, ’n curriculum vitae in ’n misdadiger wees,” het Olivier gesê.

Die landdros het ook verwys na die regering se pogings om geslagsgebaseerde geweld te bekamp, insluitend die jaarlikse 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Sy het benadruk dat die howe ’n rol het om te speel om die kwesbaarstes in die samelewing teen sulke leed te beskerm.

‘It was kinda fun’

As verswarende omstandighede het die staat ’n Facebook Live-video ingedien wat Ferreira in 2021 op sy sosiale media geplaas het. Daarin vertel hy van ’n onverwante voorval waar hy na bewering ’n bejaarde man aangerand het. “That uncle was telling me sh*t, and I just f**ed him up with a glass. It was kinda fun.”

Die hof het gehoor dat Ferreira sedert sy skuldigbevinding sy werk verloor het en nou by sy ma woon.

“Met verwysing na die getuienis het Olivier aangevoer: ‘Die feit dat hy op sosiale media gespog het, tesame met die feit dat dit ’n bejaarde slagoffer was, is verswarende omstandighede wat howe gebruik om strawwe te verskerp. Howe het ’n verpligting om geweldsmisdade teen ouer persone te veroordeel.’”

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê sake van geslaggeweld is van die ernstigste aangeleenthede wat deur die privaatvervolgingseenheid hanteer word. “Hoewel die privaatvervolgingseenheid van mening was dat tronkstraf gepas sou wees – gesien die slagoffer se ouderdom, broosheid en die erns van haar beserings – bied die skuldigbevinding en die eenheid se betrokkenheid darem ’n mate van gemoedsrus dat die oortreder verantwoordbaar gehou is.”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.
Back to top button