Wrede moord van Parys-kerkman: 2 vandag in hof

Die beskuldigdes van die moord op 'n bejaarde man kan moontlik met ander huisrooftogte in die omgewing verbind word.

Die twee mans van die Tumahole-woonbuurt wat in hegtenis geneem is in verband met die sinnelose moord op die 72-jarige Kenny Browne, wie 3 Maart dood in sy huis in Parys gekry is, sal vandag in die dorp se landdroshof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.

Browne het met sy lewe geboet vir net sy selfoon, beursie, gasbottel en ‘n skootrekenaar wat uit sy huis gesteel is.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 40 en 42 jaar oud, is deur speurders van Parys en lede van die Misdaadvoorkoming en Misdaad-intelligensie gearresteer.

Polisiewoordvoerder Kaptein Loraine Earle het bevestig die polisie sluit nie die moontlikheid uit dat die mans moontlik met ander huisrowe wat die afgelope tyd in die dorp gerapporteer was, verbind kan word nie.

Browne se dood het die gemeenskap van Parys platgeslaan. Oor die jare was hy besonder geliefd, veral by die Methodiste kerk waar hy baie betrokke was. Hy was ook ‘n leke-prediker. “Die Here en die kerk was sy lewe.”

Earle het vroeër gesê dat Browne daardie Sondagoggend in sy huis in Fochstraat op die kombuisvloer gekry is met sy hande en voete vasgebind. Hy was reeds dood toe hy gevind is.

Kenny was nooit getroud nie en het alleen gewoon.

Hy is in Parys gebore en het sy lewe lank in die dorp gewoon.

Een van die kerk se gemeentelede, Margi Farre, het hom in sy huis gekry nadat sy onraad vermoed het toe hy nie soos gewoonlik die Sondagoggend vroeg by die kerk was om te help met voorbereidings vir die erediens nie. Hy het ook nie sy foon geantwoord nie. Dit was sy gewoonte om altyd te laat weet as hy nie kon kom nie, of laat sou wees.

Farre het aan Parys Gazette gesê sy was onrustig omdat hy die vorige week nie gesond was nie. Die agterdeur was oop toe sy by die huis aankom.

Enkele dae voor sy dood het hy nog aan haar gesê dat hy haar daardie Sondag by die kerk sou sien.

Inwoners met wie die koerant gepraat het, het genoem dat Browne ook die Saterdag voor die wrede moord nog in Checkers gesien is toe hy gaan kruideniersware koop het.

Geliefd onder mense

Baie Parysenaars het hom geken as ‘n vriendelike en hulpvaardige mens wat vir jare by Mica gewerk het.

Vroeër jare was hy ook in die meubelbedryf werksaam.

Browne was sy lewe lank by die kerk betrokke, maar het hom veral na sy aftrede toegespits op die kerk se werksaamhede.

Omdat daar baie bejaarde lidmate in die gemeente is, het hy hom oor hulle ontferm, het hulpleraar by die kerk, Cathy du Plessis, gesê. Hy het oral gehelp waar hy kon, en bejaardes van die gemeente wat nie meer kon bestuur nie, dikwels geneem waar hulle moes wees.

Farre het vertel dat hy op ‘n dag toe hulle saamgery het, gesê het dat as die Here hom môre sou kom haal, hy gereed is. Sy lewe was ‘n getuienis hiervan.

Iemand wat gelewe het vir sy geloof, ‘n grapjas, ‘n omgeemens. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. As iets gebreek het of gedoen moes word, was hy daar om te help.

Sy ongelooflike kennis van die dorp en sy mense het jou altyd opgeval.

Vir sy ‘kerkfamilie’ laat sy dood ‘n oneindige groot leemte en sal sy opregte vriendskap baie gemis word.

“Hy het nie verdien om so te sterf nie. Hy het ‘n hart so groot soos die wêreld gehad, en was ‘n kind van die Here deur en deur. Ons gaan hom verskriklik baie mis by die kerk.” het Du Plessis gesê kort na die nuus van sy moord bekendgemaak is.

Die arrestasies is ‘n groot deurbraak in die toename in aanvalle op weerlose bejaardes wat geteiken word.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button