Van Polokwane na die Kaap: Oud-Affie voltooi fietstog vir goeie doel
Andru van Zyl (18) het gister in die Kaap aangekom ná 35 dae op sy fiets deur Suid-Afrika om bewusmaking vir kinderkanker te skep.
“‘n Duisend-en-een-dinge,” is waaraan Andru van Zyl (18) die afgelope 35 dae op sy roete na die Kaap gedink het.
Volgens Polokwane Review het Andru, met sy koel koeimotiefhemp en fietsrybroek, die roete Kaap toe aangepak met die oog daarop om bewusmaking vir kinderkanker te skep.
Die oudleerling- en 2025 hoofseun van Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria is deel van The Choc Cows, alledaagse Suid-Afrikaners wat hulle passies in fondsinsameling omskep. Die Kinderkanker-stigting van Suid-Afrika (Choc), ondersteun gesinne van kinders wat met kanker of lewensbedreigende bloedafwykings gediagnoseer is – van die tyd van diagnose af tot die kind in remissie is of, in sommige gevalle, tot die kind sterf.

Die fietsrit
Andru het op 16 Desember uit Polokwane vertrek en gister sy bestemming in Kaapstad bereik. Dié reis het behoorlik die land se verbeelding aangegryp en hy sê hy het ongelooflike mense ontmoet.
“My perspektief op mense en hoe hulle dink, het verander. Terwyl die mense saam met my gery het, het ons gesels en ek het baie stories gehoor.”
Met 2 800km km agter die rug, wat agterpaaie insluit, slaag hy nou ‘n sug van verligting. Met dankbaarheid in sy hart, veral vir sy ma, het hy die einde bereik en kan hy terug kyk na die avontuur.
“Ek het oor die algemeen nie reuse verrassings gehad nie, behalwe waar die beeste of bokke in die pad gestaan het en nie wou beweeg nie. Ek het eendag om ‘n draai gery en toe staan daar ‘n bees. Ons het vir mekaar geskrik en hy het begin rondspring, amper bo-op my. Daar was ook motors wat onverwags om draaie gekom het.”
‘n Fout wat hy sê hy wel gemaak het was ‘om nie voor die tyd aan die fiets gewoond te raak nie’. “Ek het ook nie die toerusting voor die tyd so verpak dat dit nie sou raas terwyl ek ry nie.”

‘n Moeilike dag op die saal
Hy sê die moeilikste dag wat hy beleef het, was die roete tussen Graaff-Reinet en Jansenville.
“Dit was 40°C en dit was ‘n sinkplaatpad. Dit was fisies moeilik. Ek het nooit daaraan gedink om op te hou ry nie, maar wel gedink dit is nie meer lekker nie. Dit was elke dag ‘n uitdaging om weer op die fiets te klim, aangesien dit so ‘n lang reis was.”
Elke stukkie moeilik het tog wel ‘n belonging ook, soos die uitsig naby Patensie waar Andru bo-op ‘n berg gestaan en uitgekyk het oor die kloof waar die mis gehang het en aan die anderkant van die berg, was die see, vertel hy.
Hy is ook baie dankbaar vir die mediadekking vir sy groter bewusmakingsdoel. “Die mediadekking en reaksie wat ek langs die pad gekry het, is belangrik aangesien ek dit juis vir bewusmaking gedoen het. ‘n Tannie het vir my gesê ek weet nie wat hierdie bewusmaking vir hulle beteken nie. Dit het weer betekenis gegee aan wat ek doen.”
Jy kan ‘n bydrae maak
Taryn Seegers, die kommunikasiekoördineerder by Choc, verduidelik kortliks die ondersteuning wat dié organisasie bied: “Ons voorsien verblyf naby behandelingsentrums, vervoer na en van hospitale, maaltye, emosionele en psigososiale ondersteuning, opvoedkundige hulp en praktiese leiding. Ons fokus is daarop om hindernisse te verwyder sodat gesinne op wat die belangrikste is, hul kind se behandeling en welstand, kan konsentreer.”
Een van Choc se huidige uitdagings is om die groeiende vraag na dienste te hanteer namate meer kinders gediagnoseer word. Om stygende bedryfskoste met volhoubare befondsing te balanseer, terwyl ondersteuning oor alle streke heen verseker word, bly ’n voortdurende taak.
Belangstellendes wat by Choc wil betrokke raak of skenkings wil maak, kan Seegers by taryn.seegers@choc.org.za kontak.
Andru se fondsinsamelingpoging kom tot ‘n einde aan die einde van Januarie, en jy kan steeds ‘n bydrae maak – besoek gerus die volgende webtuiste: https://www.givengain.com
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



