Interprovinsiale klubrugby-toernooi skop eersdaag af
Veertig klubs van vier provinsies sal in twee liga-afdelings en ’n vroueliga meeding, met die topliga se finaal op Loftus Versfeld.
As daar ooit twyfel was dat klubrugby noord van die Vaalrivier besig is om terug te bons en weer daarin slaag om die verbeelding van die rugbypubliek aan te gryp, is dit verlede week finaal bewys toe die verbeterde, uitgebreide Sibanye-Stillwater Superliga by Loftus Versfeld bekendgestel is.
Volgens Pretoria Rekord het kapteins, afrigters en administrateurs van rugbyklubs uit al die provinsiale unies noord van die Vaalrivier saam met verteenwoordigers van die borge byeengekom om die bekendstelling van hierdie indrukwekkende nuwe kompetisie by te woon.
Dié inisiatief, wat hoofsaaklik deur die president van die Blou Bulle Rugby-unie, Willem Strauss, in samewerking met die borge en sy kollegas van vyf ander rugby-provinsies gedryf word, sal vanjaar 40 klubs in twee liga-afdelings en ’n vroueliga akkomodeer. Prysgeld van sowat R2m, versprei oor die drie kompetisies, is op die spel.

Noordelike provinsies verenig
Verlede jaar het die Castle Superliga afgeskop met 12 klubs uit vier provinsiale unies, asook die Limpopo Blou Bulle sub-unie. Vanjaar het klubs vanuit die Lions se geledere ook by die Blou Bulle, Valke, Pumas, Luiperds en Limpopo Blou Bulle aangesluit, wat beteken dat die uitgebreide Sibanye-Stillwater Superliga volwaardig as ’n interprovinsiale klubtoernooi vir die top klubs noord van die Vaalrivier beskou kan word.
Die Sibanye-Stillwater Superliga sal vanjaar 16 eersteliga klubs akkomodeer, terwyl die Sibanye-Stillwater Superliga Skild uit ’n verdere 16 klubs sal bestaan, wat die Blou Bulle se Presidentsliga klubs insluit.

Ligastruktuur en pad na die eindstryd
Albei die ligas sal in vier groepe verdeel word met groepwedstryde wat gevolg sal word deur ’n uitspeelfase om die twee kandidate vir die eindstryd te bepaal. Die eindstryd van die top liga sal op 20 Maart op Loftus Versfeld plaasvind as voorwedstryd wanneer die Bulls en die Walliese klub Cardiff in ’n Verenigde Rugby Kampioenskap wedstryd sal kragte meet.
Vrouerugby sal ook deel uitmaak van die nuwe toernooi en die vroueliga sal in twee groepe van vier spanne elk beslis word.
Wedstryde sal weer op sosiale media platvorms uitgesaai word, terwyl beperkte TV-uitsendings ook sal plaasvind.

Hier is die spanne:

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



