NWU sit vir Tuks ore aan in Potchefstroom
Die Universiteit van Pretoria is hulle onoorwonne rekord kwyt weens 'n 30-22 nederlaag teen die Noordwes-Universiteit se Eagles.
Die Noordwes-Universiteit (NWU) het danksy ‘n fantastiese eerste helfte vir die Universiteit van Pretoria (Tuks) op die planke gehad en kon met daardie momentum ‘n 30-22 oorwinning verseker.
Die NWU Eagles het die wind uit Tukkies se seile geslaan met drie drieë in die eerste helfte om in Potchefstroom te seëvier, berig Potchefstroom Herald.
Die NWU was van die begin af op koers en het die wen vasgeanker met drieë van Zack Serfontein, Leejay Petersen, Jordan McLoughlin en Luan van der Merwe.
Tukkies nie meer onoorwonne nie
Sodoende het die NWU ook die eerste span geword wat vanjaar vir Tukkies kon les opsê en hulle onoorwonne rekord kon breek. Die Eagles bevind hul nou ook boaan die punteleer ná vyf wedstryde, met kragmetings teen Ikeys en Maties wat nog voorlê.
Die NWU sal beslis in die eerste plek wil bly om ’n tuis halfeindstryd en moontlike eindstryd te verseker – veral as ’n mens na die skare op die Fanie du Toit-sportgronde kyk.
Hulle is die spreekwoordelike 16de man op die veld en skep ’n atmosfeer wat die NWU daardie ekstra woema gee en besoekers effe senuweeagtig laat.
’n Mens kon dit gisteraand sien in ’n titaniese stryd tussen die twee spanne, wat die NWU deurgaans beheer het, al was daar net agt punte verskil.
Die eerste helfte
Serfontein het die driekrane in die sewende minuut oopgedraai met ’n fopaangee en kon, sonder dat ’n Tukkie aan hom raak, oor die doellyn sweef.
Die NWU se tweede drie was ook ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n hoë bal benut kan word. Serfontein se skop kon nie deur Tuks se Munashe Dukuswa gevang word nie. Die agtsteman, Guhan du Bois, het die bal beetgekry en ’n puik lopie gemaak. Hy het die bal na kaptein Schalk van Schalkwyk aangegee, voordat Petersen die res gedoen het.
Die NWU se voorspelers het Tukkies ook geen blaaskans gegee nie, met die span wat hul derde drie uit ’n rolmaalbeweging gedruk het. Die haker, Jordan McLoughlin, het sy naam op die telbord geplaas. Tuks se skrumskakel Akha Mjawule het sy span net voor halftyd hoop gegee met ’n goeie solodrie.
Die tweede helfte
Tukkies het in die tweede helfte ’n teenaanval probeer loods en die NWU se verdediging besig gehou. Die besoekers se regtervleuel, Andile Myeni, het vroeg in die 43ste minuut oorgeduik nadat Christiaan Vlok deur ’n gaping gebreek het.
Kort daarna het die NWU hulle voorsprong vergroot toe Matthew Fortuin sy spoed wys en ’n drie vir heelagter Van der Merwe op ’n skinkbord plaas om die telling na 30-10 te neem.
Gustav van der Merwe het twee verdere drieë vir die besoekers gedruk. Ondanks ’n paar benoude oomblikke kon die NWU vir Tuks stuit.
Punteleer
Middelburg Observer berig dat Tukkies nog ’n goeie kans het om bo aan die punteleer te eindig, want hy is net een punt agter die NWU Arende op 21 teenoor die Potchefstromers se 22.
Tuks behoort Maandag op sy tuisveld volpunte te behaal teen die sukkelende Emeris wat gisteraand met 26-24 teen CUT in Durban gewen het.
NWU reis na Stellenbosch om ’n Matie span te pak wat sy vorm herwin het en met 34-7 baas was teen Ikeys.
Geen ritme
Middelburg Observer het ook berig daar was heeltemal te veel ongedwonge foute en strafskoppe wat gemaak het dat daar geen ritme was nie.
Miskien was die nederlaag net op die regte tyd, want Dewey Swartbooi en sy afrigtingspan weet nou waar lê die span se swakplekke.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



