SportSport

NWU wys Tuks wie is baas in Potch

Die NWU het danksy 'n fantastiese eerste helfte vir Tuks op die planke gehad en kon met daardie momentum 'n 30-22 oorwinning verseker.

Die NWU Eagles het die wind uit Tukkies se seile geslaan met drie drieë in die eerste helfte om met 30-22 in Potchefstroom te seëvier.

Die NWU was van die begin af op koers en het die wen vasgeanker met drieë van Zack Serfontein, Leejay Petersen, Jordan McLoughlin en Luan van der Merwe.

Sodoende het die NWU ook die eerste span geword wat vanjaar vir Tukkies kon les opsê en hul onoorwonne rekord kon breek. Die Eagles bevind hul nou ook boaan die punteleer na vyf wedstryde, met kragmetings teen Ikeys en Maties wat nog voorlê.

Die NWU sal beslis in die eerste plek wil bly om ’n tuis halfeindstryd en moontlike eindstryd te verseker – veral as ’n mens na die skare op die Fanie du Toit-sportgronde kyk.

Die skare was op hul stukke! Foto’s: Wouter Pienaar

Hulle is die spreekwoordelike 16de man op die veld en skep ’n atmosfeer wat die NWU daardie ekstra woema gee en besoekers effe senuweeagtig laat.

’n Mens kon dit gisteraand sien in ’n titaniese stryd tussen die twee spanne, wat die NWU deurgaans beheer het, al was daar net ’n agtpuntverskil.

Serfontein het die driekrane in die sewende minuut oopgedraai met ’n fopaangee en kon, sonder dat ’n Tukkie aan hom raak, oor die doellyn sweef.

Die NWU se tweede drie was ook ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n hoë bal benut kan word. Serfontein se skop kon nie deur Tuks se Munashe Dukuswa gevang word nie. Die agtsteman, Guhan du Bois, het die bal beetgekry en ’n puik lopie gemaak. Hy het die bal na kaptein Schalk van Schalkwyk aangegee, voordat Petersen die res gedoen het.

Die NWU se voorspelers het Tukkies ook geen blaaskans gegee nie, met die span wat hul derde drie uit ’n rolmaalbeweging gedruk het. Soos gewoonlik het die haker, Jordan McLoughlin, sy naam op die telbord geplaas. Tuks se skrumskakel, Akha Mjawule, het sy span net voor halftyd hoop gegee met ’n goeie solodrie.

Tukkies het in die tweede helfte ’n teenaanval probeer loods en die NWU se verdediging besig gehou. Die regtervleuel, Andile Myeni, het vroeg in die 43ste minuut oorgeduik nadat Christiaan Vlok deur ’n gaping gebreek het.

Kort daarna het die NWU hul voorsprong vergroot toe Matthew Fortuin sy spoed wys en ’n drie vir heelagter Luan van der Merwe op ’n skinkbord plaas om die telling na 30-10 te neem.

Gustav van der Merwe het twee verdere drieë vir die besoekers gedruk. Ondanks ’n paar benoude oomblikke kon die NWU vir Tuks stuit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button