Skote gaan klap in die Wes-Kaap tydens wêreldkampioenskap vir jaggeweerskiet
Skuts uit Namibië, die Tsjeggiese Republiek en Suid-Afrika, sak binnekort op die Tuinroete toe vir ’n internasionale kompetisie wat Sondag begin.
Die Internasionale Jaggeweerskiet-vereniging se vyfde wêreld-jaggeweerskietkampioenskap vind van Sondag (12 Julie) tot volgende Saterdag (18 Julie) by die Louvain-gasteplaas naby Herold in die Wes-Kaap plaas.
Knysna-Plett Herald berig dié geleentheid, wat deur die Suid-Afrikaanse Jaggeweerskietvereniging aangebied word, beloof om van die land se beste skuts te lok en sluit deelnemers uit die Tsjeggiese Republiek, Namibië en Suid-Afrika in.
Die kampioenskap begin Sondag om 18:30 met ‘n baadjie-oorhandigingseremonie vir die kleiner-kaliberspanne. Die amptelike opening en vlaghysing vind Maandag om 08:00 plaas. Registrasie vir die opeklas (groter kaliber gewere) vind Woensdag om 17:30 plaas, tesame met die baadjieoorhandiging vir dié spanne.
Die kampioenskap word volgende Saterdag afgesluit met ‘n formele dinee, waartydens die individuele wêreldkampioen, asook die wenspanne in die ope, dames-, B- én junior spanne aangekondig word.
Ingeskrewe skuts per dag
- Maandag: 101 (.22 LR/PCP)
- Dinsdag: 101 (.22 LR/PCP)
- Woensdag: 87 (.222/.223)
- Donderdag: 148 (ope)
- Vrydag: 148 (ope)
- Saterdag: 153 (ope).
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.


