Nuwe boeke

Boeke bly steeds 'n wondelike kersgeskenk, en daar is tans wonderlike opsies beskikbaar wat enige een se smaak sal pas.

Met die kerstyd op ons volg natuurlik die bekommernisse oor kersgeskenke en wat om vir wie te koop. Hierdie drie boeiende boeke is die ideale kersgeskenke.

Score my ’n gwai deur Marlize Hobbs.

Ek is Miesa, die sussie van Harry en Barend. Die dogter van Betta en Wilhelm. Van die Louwna-omgewing anderkant Vryburg. Van die vlaktes en die skaapkrale en die beesmis, van die landerye wat op oes staan. Ek is ook Miesa van nou, ma van Naledi, getroud met my Facebook-liefde, Jasmyn. Dis wat ek graag wil vertel.

Ek is Siena Maamogwe. Met hierdie twee oge en hierdie kyk van my sien ek alles. Met hierdie hart wat so skop soos ’n hinks in my, ken ek dinge wat ander mense net in hul slaap sien. Met hierdie kop se kyk sien ek wat môre gaan gebeur al klaar. As ek in jou se oge kyk, sal ek jou kan vertel van jouself. Maar ek word moeg van kyk en sien en sien. Hierdie is my storie wat ek saam met Miesa geleef het. Miesa en die twee broertjies, Harry en Barend.

Maar Tintin in Tibet deur Annelie Ferreira.

Dis net heeltemal way out buite die kwessie dat jou dominee-pa by jou flat opdaag en sê jy moet saam met hom Beaufort-Wes toe ry omdat ’n messias daar gesien is. Of liewer, normaalweg is dit. Maar as jy pas met jou Golfie agter in ’n karretjie van die Jack en Jill Driving School vasgery het en jou girlfriend kom daarna met die storie dat julle nie meer die naweek alleen Struisbaai toe kan gaan nie… dan, ja… Dan klim jy maar in jou pa se ou Merc in, luister maar na Radio Kansel en sy gemoun oor wat alles fout is met die land en wag geduldig dat die selfoon in jou sak vibreer met ’n SMS van jou girlfriend.

Die ding is net dat jy dan ook agterkom dat dinge baie vinnig baie ingewikkeld kan raak. Jy kom byvoorbeeld agter jou pa het ’n pistool in die cubbyhole, dat jou doodgoeie ma, ’n predikantsvrou, uithang met ’n vrou wat nie ’n bra dra nie, jou girlfriend vir ’n ruk net wil wegkom van alles, veral van jou, en dat die messias waarna jy en jou pa op pad is – wag hiervoor – ’n swart seun is.

Hop op. Die trip op die N1 van Stellenbosch na Beaufort-Wes was nog nooit so weird and wonderful soos dié een saam met Annelie Ferrei nie. Dit is soos om van die betaalfoon van ’n B&B op Laingsburg in die donker in te bel en… by jouself uit te kom. En in die middel van nêrens, kom jy agter, sien jy óf jou gat, óf ’n wonderwerk.

101 Bakgat maniere om te lewe en te sterwe deur RR Ryger.

Twee verhale in een, vertel in Ryger se eiesoortige wegholtrein-manier. Soms skokkend, soms bisar, soms histeries snaaks – nooit vervelig nie. Dit is die stem van die skrywer wat al deur skrywer/dramaturg Harry Kalmer “die meester van die moderne Afrikaanse kortboek” genoem is.

In Bloedlyn is Dirk Steyn, ondersoekende joernalis en skrywer oor die okkulte, op soek na ’n gebreklike ontkleedanseres. Dit bring Steyn in konfrontasie met sy eie verlede en oppad skuur hy skouers met onder meer ’n satanistiese kultusleier, ’n kannibalistiese dwerg en ’n psigopatiese pastoor.

In Kaktushart beland die suksesvolle afrigter van die Springbok-rugbyspan, Walter Cronje, in die kloue van ’n groepie esktremistiese kunstenaars wat van hom ’n kunswerk wil maak deur ’n kaktus in sy borsholte te plant. Die verhaal ondersoek die grense tussen verskillende groepe mense met uiteenlopende belangstellings, en dié tussen bewonderaar en held.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button