Unieke Loofhuttefees
Die Loofhuttefees, wat op die naweek van 29 November aangebied word by die Nederduits Hervormde gemeente Hartebeeshoek in Akasia, beloof om opwindende kompetisies en ander interessanthede aan te bied.
‘n Gemeente in die noorde van Pretoria beoog om binnekort ‘n naweeklange fees soos min aan te bied ten bate van armoedeverligting.
Die Nederduits Hervormde gemeente Hartebeeshoek bied aan hulle eerste Loofhuttefees.
Die fees, wat op die naweek van 29 November by die kerk se gronde in Akasia aangebied word, gaan stalletjies, ‘n potjieskoskompetisie en ‘n fotokompetisie insluit.
Gelde wat tydens die fees ingesamel word, sal gebruik word om armoede in die gemeenskap te verlig.
“Die fees skop Vrydagmiddag af met die potjiekoskompetisie. Hierdie behoort ‘n pragtige geleentheid te wees – so reg in die kraal van die Loofhuttefees,” het ds. Cobus Jansen van Nieuwenhuizen van die gemeente gesê.
Vir die potjiekoskompetisie word mense uitgenooi om potjies in te skryf en as gashere of gasvroue op te tree.
“Gashere of gasvroue nooi op hul beurt ’n aantal gaste en slaan vir hulle ‘n loofhut op waarin hulle getrakteer sal word met ‘n heerlike dis. Tydens die geleentheid beding elke loofhut uit dankbaarheid vir die gasvryheid wat aangebied is ‘n bedrag wat dan aangewend word vir armoedeverligting.”
Jansen van Nieuwenhuizen het bygevoeg vir almal wat ‘n liefde het vir fotografie, bied die Loofhuttefees ‘n geleentheid om ten bate van armoede hierdie voorliefde uit te leef.
“Tydens die geleentheid word fotograwe uitgenooi om hul beste werke wat armoede uitbeeld, te kom uitstal.”
Vlooimarkstalletjies met allerhande lekkernye sal beskikbaar wees vanaf Vrydag tot Saterdag.
Vir meer inligting skakel ds. Cobus Jansen van Nieuwenhuizen by 082-370-5038.