Drome en doelwitte van jou gunsteling sterre vir 2014

Hoor waarna streef jou gunsteling sterre in 2014

Die jaar 2014 is amptelik hier en een van die gewildste tradisies dié tyd van die jaar is natuurlik nuwejaarsvoornemens. Rekord het met ‘n paar van Pretoria se gunsteling sterre gesels om te hoor wat hul voornemens vir 2014 is.

Angelique Gerber:

Heel bo aan haar lysie van nuwejaarsvoornemens is om nader aan die Here te kom en Sy hart beter te verstaan. “Ek wil ook meer tyd alleen spandeer om die ware ek beter te leer ken. En ek wil minder omgee oor ander se opinies en eg wees aan myself,” vertel die Boer Soek ‘n Vrou-aanbieder.

In September gaan Angelique vir agt weke na Los Angeles om ‘n filmkursus aan die New York Film Academy te voltooi en sy spot dat sy seker een of ander tyd sal moet begin spaar.

Die fietse aktrise sal ook graag wil begin dans en stel veral in kontemporêre dans belang. Sy wil haar lyf fiks en gesond hou deur meer op callisthenics te fokus, waar jy met jou eie liggaamsgewig oefen en ook parkour (‘n Sport waarin deelnemers vinnig oor hindernisse probeer kom). Die plan is om die parkour- en callisthenics-oefeninge te kombineer en sodoende my eie waaghalstoertjies op filmstelle te kan doen.

Mathys Roets:

Dié geliefde Afrikaanse sanger het ‘n hele lys van dinge wat hy nog wil doen. “Ek wil graag groot dinge vanjaar in ‘n groot manier doen en alles wat ek aanpak moet ’n verskil maak, ongeag of dit my musiek of persoonlike doelwitte is,” vertel Mathys. Vandat hy’n rolstoel geskik vir padwedlope aangeskaf het, is hy ook baie meer avontuurlustig en het groot planne vir 2014. Mathys beplan om vir die Cape Argus-fietstoer en Two Oceans-marathon te begin voorberei en wil ook al die grondpasse wat hy moontlik in Suid-Afrika kan vind, met sy rolstoel aandurf. “Ek wil eintlik net my lewe leef en op my musiek konsentreer sodat ek ten minste een maal per maand ’n nuwe liedjie kry om te gebruik, ‘n liedjie wat ‘ek’ is.”

Liza Brönner:

Suid-Afrika se Liefling se nuutste album, Jy het my gevind het onlangs op die winkelrakke verskyn en Liza vertel dat sy graag in 2014 met haar album op soveel moontlik plattelandse dorpies wil gaan kuier. “Ek wil kyk of ek nie dalk nog ‘n teaterproduksie en of bietjie TV-werk kan aanpak nie,” vertel sy. Die blonde sangeres wil ook meer oefen en betrokke raak by liefdadigheidswerk. “Hierdie jaar wil ek my my bes doen om almal onvoorwaardelik lief te hê soos wat die Bybel ons leer.”

Pieter Koen:

Die Skud jou biscuit-sanger se lewensfilosofie was nog altyd dat mens net een keer leef en die jaar wil hy sorg dat hy die beste maak van wat ook al gebeur. Hy wil die jaar met ywer aanpak en die beste maak van als.

“Ek wil nie weer op die skaal klim nie en ook probeer onthou dat daar vir almal ’n plekkie onder die son is,” sê hy.

Koen meen na ’n moeilike 2013 moet hy die opdraandes sowel as die afdraandes van die lewe in positiewe lig sien.

Related Articles

Back to top button