Befaamde skrywer stel nuwe boek bekend
Connie Luyt, 'n befaamde Pretoriase romanskrywer het Donderdag haar nuwe boek, Meer as een Grens, tydens 'n Boek en Koek-geleentheid bekendgestel.
’n Groep boekliefhebbers het aan ’n befaamde Pretoriase romanskrywer se lippe gehang toe sy Donderdag haar splinternuwe roman by ‘n Boek en Koek-geleentheid in die noorde van Pretoria bekendgestel en met die gehoor bespreek het.
Die vroue is met ’n koppie koffie en heerlike lekkernye by ’n restaurant in Montana bederf terwyl Connie Luyt interessanthede oor haar nuwe roman, Meer as een Grens, met hulle gedeel het.
Luyt se boek, wat tans vierde op die Varsgedruk-televisieprogram se gewildheidslys is, vertel die boeiende verhaal van die grense waaragter haar twee hoofkarakters skuil en hoe dié grense verskuif word.
Luyt het tydens die geleentheid gesê sy wou graag oor die grense, wat elke mens omring, asook die effek van die grensoorlog (waarvan sy eers min geweet het) skryf.
“Ek wou graag meer van die oorlog leer en dit was vir my grens-verskuiwend en ’n groot geloofsprong om hieroor te leer en skryf,” het sy gesê.
Erika Theron, wat ook ’n bekende skrywer is en die onderhoud met Luyt gevoer het, het Luyt se insig oor menseverhoudings as iets besonders beskryf.