News

“Willem in rivier geplant” – beweer sosiale media groep

’n Sosiale media groep, “Baklei_vir_Boere”, beweer daar was ’n bakleiery by die rampartytjie waar die jong boer, Willem Kruger, teenwoordig was, voordat hy verdwyn het.

Die groep sinspeel ook daarop dat hy “in sy bakkie geplant is in die water”.

Willem se bakkie, met sy liggaam nog binne, is op 20 November 2022 in die Vaalrivier, langs die Henbase Lodge, gevind.

Sy aanvanklike verdwyning, die soektog en die vind van sy liggaam, het meer vrae as antwoorde gebring en ondersoekspanne is nog besig om die gebeure te ontrafel.

Nadat Willem verdwyn het en later opgespoor is, is daar wyd in die media en op sosiale media daaroor berig.

Die groepe “TrotsAfrikaans” en op Instagram: “Baklei_vir_Boere” het bewerings gemaak teen die groep mans wat saam met Willem by die rampartytjie was. Daar word beweer dat gemene spel in sy verdwyning betrokke was.

“TrotsAfrikaans” het gesê: “Ons dink Boer Willem Kruger verdien geregtigheid. As daar waarheid is wat weerhou word, weet en bid ons as volk dat dit na vore kom. Ons vra dit in Jesus Christus ons Groot en Almagtige God se Naam. Amen.”

• Op “Baklei_vir_Boere” het ’n persoon (wie se naam doodgekrap is) dié kommentaar geskryf:

Dis oor hy nie gelyk was aan die wêreld nie, hy’t opgestaan vir geregtigheid daardie aand. Since when betaal jy met jou lewe vir geregtigheid?
Wys meer as die ander wat daar was, Willem het gestaan vir geregtigheid en met sy lewe betaal. Want hoe durf jy iets sê, kom dat ek jou ’n les leer.
Snap-snap, vuishoue swaai, nekke knak, liggaam word verdoesel en dan na ’n hele week wat hy wegsteek word, geplaas in ’n rivier, en skielik gevind…hoe siek is jy?
Waar’s die footage van daardie aand? Hoekom word sekere partye kwaad as mens sekere vrae vra, want die vloer raak warm.
In ‘Park’ gevind, come on, die sleutel is nie eers in die ignition nie. Kyk hoe val jou storie uitmekaar.
Jou bakkie wat moer toe gestamp is, word weggesteek op jou plaas, jy gaan aan met jou lewe, cover op vir jou bloed, want jou bloedjies is mos dikker as water…Willem se bloed roep uit jou blerrie Kain.”

 Nog ’n plasing wat gemaak is by “Baklei_vir_Boere”:

Ek sê al van dag een af dieselfde: vra die barmeisie wat die volgende dag afbetaal is. Die man wie se gastehuis dit is, is mos groot vriende met die bruidegom se pa, ons wat ver is, weet baie meer as wat julle dink.
Die bakkie wat nie sleutels ingehad het nie, die vier bakkies wat gery het en net drie het teruggekom.
Ja die ou tannie wat daar oornag het, julle weet wie se skoonma sy is, sy het julle gesien.
Twee groot manne tussen jong manne, wie het wie gehelp wat wegsteek? Julle kan maar dreig, die waarheid sal uitkom. Wie se gewete het begin pla en net begin skiet?
Megaboere met groot geld, maar as ons iets noem, word ons gedreig, of stil gemaak.
Julle weet, Willem het nie in daardie rivier in gery nie. Wie het die ariel afgebreek en hoekom?
Nee, hier is baie vrae en baie antwoorde ook, word net gekies om omkoopgeld te vat, of vrek bang en stil te bly….julle gaan binnekort almal aan die pen ry, onthou my woorde.

Die Henbase Lodge van bo af gesien.

• In antwoord op ’n vraag het die admin van “Baklei_vir_Boere” die volgende gesê:

Ons wil net duidelik maak, daar was geskiet daai aand, maar Willem is nie raakgeskiet nie.
Daar was ’n bakleiery, en ons hou almal op hoogte oor die ‘vermoede’ dat hy later in sy bakkie geplant is in die water.
Let wel, slegs ’n (baie sterk) vermoede.
Dié vermoede word tans nog ondersoek. Sover is dit duidelik dat Willem nie self in die rivier in gery het nie. Maar dit is nog nie bevestig nie, dis net waarop alles dui.
Julle kan ons ook aanhaal.
Ons inligting is 100% akkuraat en kom van die regte bronne. Ons deel slegs as ons 100% seker is van ons feite.
Ons sien ook geen konneksie tussen Jan Hendrik Bower en Willem se familie nie, behalwe die nooiensvan van sy moeder. Alhoewel niemand weet van hom nie.

• Met Willem se verdwyning is ’n Facebookgroep, “Ons soek Willem Kruger” gestig en nadat hy gevind is, is die groep gesluit en ’n nuwe groep “Geregtigheid vir Willem” begin.

Hulle het kort nadat die berig in Rapport verskyn het, gesê dat hulle in reaksie op die artikel die “volgende inligting nou bekend gemaak kan word rondom Willem se saak.”

’n Lang lys is bekend gemaak, waaronder:

Dat Willem die ramparty van Ghini Greyling bygewoon het en dat Ghini die seun is van die suksesvolle boer naby Wakkerstroom, BP Greyling.
Hulle meld ook dat mnr. Greyling bevriend is met mnr. Johan Claassen, wat die eienaar is van die Henbase Lodge.

Verder word gesê dat Willem op CCTV videomateriaal is waar hy kort voor 01:00 die nag ’n bottel water bestel het.
Om 01:12 het hy ’n vriend probeer bel, maar hy het nie geantwoord nie en hy het weer probeer bel.

Hulle noem van die patroondoppie wat die oggend naby die kroeg in die parkeerarea gevind is.

Ook dat die CCTV-materiaal en Willem se bakkie se opsporingstelsel gewys het dat hy nooit die lodge verlaat het nie.
Volgens inligting het ’n kroegdame haar volle samewerking gegee toe sy deur die polisie ondervra is.

Vir etlike dae is daar in die Vaalrivier gesoek deur polisielede, asook honderde vrywilligers en is die beste sonar en elektromagneet tegnologie gebruik.
Hul lys noem dat die soektog na ses dae gestaak is, sodat ’n troue kon plaasvind by Henbase Lodge.

• “Nege dae later, ’n dag na die soektog hervat is, word die bakkie opgespoor. Skaars 100m stroomaf van die Lodge en ’n plek wat alreeds deeglik gefynkam was. Die bakkie was net-net onder die waterlyn.

• “Willem se outomatiese Toyota Hilux, is uit die water gehaal in “park”, met die handrem op. Die sleutels van die bakkie is op die vloer van die passasierskant gevind.

• “Die skade aan die bakkie stem nie ooreen met die van ’n voertuig wat nege dae lank in water gelê het nie. Daar was minimale skade.

• “Daar word gesê dat dit nie sin maak dat Willem die draai gemis het en reguit in die rivier in gery het nie. Die draadheining is nog heel en die bakkie het nie krappe en duike gehad nie.”

• “Mnr. Claassen het voor die speurders op die toneel gekom het, Willem se bakkie self uit die water getrek.”

Daar word beweer dat Janneman Uys, wat ook ’n gas was by die rampartytjie, se bakkie gekonfiskeer is deur die polisie om deeglik ondersoek te word.”

Hulle sê verder dat ’n bron vir hulle sou gesê het dat Janneman “weke na die ondersoek geweerskote in sy huis afgevuur en dele van sy huis aan die brand gesteek het.”

• Die polisie se provinsiale kantoor, by monde van brig. Selvy Mohlala, het ontken dat daar ’n voertuig gekonfiskeer is vir ondersoek.

• Ons joernalis wou Janneman se kommentaar kry rakende die bewerings teen hom, maar hy het net gesê dat hy “sy samewerking vir die polisie gee” en “nie die ondersoek wil belemmer of beïnvloed nie. Ek sal dalk later bereid wees om te gesels, maar nie nou nie.”

Check Also
Close
 
Back to top button