NewsSchools

Ichthus leerders neem Drakensberge op horings

Op Dinsdag, 7 April het 21 baie opgewonde Graad 4 en 5 leerlinge op hulle jaarlikse toer vertrek: bestemming Drakensville! Mnr Abrahamse van die Departement van Waterwese het vir hulle meer van die waterskemas in die Drakensberge vertel en gewys, en die oop sluise van die Driel-Dam naby Bergville was ‘n belewenis vir ieder en …

Op Dinsdag, 7 April het 21 baie opgewonde Graad 4 en 5 leerlinge op hulle jaarlikse toer vertrek: bestemming Drakensville!
Mnr Abrahamse van die Departement van Waterwese het vir hulle meer van die waterskemas in die Drakensberge vertel en gewys, en die oop sluise van die Driel-Dam naby Bergville was ‘n belewenis vir ieder en elk.
Die kinders was in twee spanne verdeel, ‘Cathedral Peak’ en ‘Champagne Castle’. Dit was baie opwindend om die werklike pieke elke dag te sien, alhoewel sommige Graad 4s en 5s se tonge behoorlik geknoop het wanneer hulle die name moes uitspreek!
Die leerlinge en personeel het deur die week gestap en gestap en gestap – ja , hulle was mos in die berge om te stap! Die Drakensberg Seunskoor was ‘n belewenis, die abseil vir sommige maklik en vir ander ‘n uitdaging wat oorkom moes word, die draadgly (‘foefieslide’) oor die dam ‘n fees, en selfs die skoolhoof het al die aktiwiteite meegedoen!
Die roofvoëls by Falcon Ridge was skouspelagtig, die uitsig op die Amfiteater asemrowend en elke kind het baie meer oor die water, inheemse woude en grassoorte geleer.
Die kinders het hulle oopmond aan die waterpomp-skema by TUVA/ Eskom vergaap, en baie interessante en leergierige vrae gevra – om te dink dat elektrisiteit deur water opgewek kan word!
Lanternbekruip en sterrekyk in die aand, poskaarte skryf, grappies vertel en vasvrae oor die berge het elke kind laat meemaak aan aktiwiteite waar hulle ook meer van hulleself geleer het.
Aan die einde van die toer het elke leerling ‘n heerlike ‘Mont-Aux-Sources’ pizza by Tower of Pizza geniet, en al was die pad huis toe nie te ver nie, het sommige outjies heerlik geslaap terwyl ander ‘n hond uit ‘n bos gekuier en gesels het!
Ichthus leerlinge en personeel bedank die Omgewingsentrum by Drakensville wat hulle ontvang het, asook Mevv Lucia Catlett, Helena Viljoen en Esmé Willemse, wat die leerlinge vergesel het. Ichthus is dankbaar teenoor die Here vir ‘n wonderlike toer en vir Sy veilige bewaring oor elkeen.
Soos een van die kinders opgemerk het: “Juffrou, dit was ‘n ondervinding van ‘n leeftyd!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Terry Worley

Terry Worley has been associated with the Courier for many years and is involved in the community covering a variety of issues affecting residents. He has a passion for local politics and for the history of the area.

Related Articles

Back to top button